Local newsNews

Susan wil sentrum met perde oopmaak

"Daar is sowat 40 perde op die plaas en as myne my sien, kom hulle aangehardloop."

SECUNDA – Me. Susan van der Merwe (39) se liefde vir perde kom al van haar kinderdae af.

Sy was maar drie jaar oud toe haar oorlede ouers haar eerste perdjie vir haar gekoop het.

“Ons het in Pretoria gebly en my ma-hulle het daar aangekom met ‘n groot rooi bussie wat soos ‘n broodwa gelyk het en die perdjie was daar binne,” het me. Van der Merwe gesê.

Haar pa het later ‘n plot in Pretoria gekoop en die gesin het toe nog meer perde aangeskaf.

Hulle het naderhand sowat 20 perde op die plot aangehou.

Me. Van der Merwe het as kind altyd haar pa gehelp ploeg en het ook trekker bestuur.

“Ek was nooit kleuterskool toe nie, dit was te lekker op die plaas.”

Die gesin het later Pretoria vir die Kaap verruil waar hulle vir ‘n jaar gewoon het toe me. Van der Merwe 11 jaar-oud was.

Sy het egter later weer teruggetrek na Pretoria waar sy haar hoërskoolloopbaan voltooi het.

Me. Van der Merwe het ná skool by verskeie ondernemings as bestuurder en ontvangsdame in Pretoria en op Hartbeespoortdam gewerk. Sy het ook by ‘n avontuur-sentrum gewerk waar sy mense vir perderitte geneem het.

Haar liefde vir perde het ook oorgespoel na haar drie kinders wat onderskeidelik ses, 15 en 16 jaar-oud is.

Me. Susan van der Merwe hou daarvan

Die gesin het tans sewe perde op stal op ‘n plaas buite Secunda waar hulle graag tyd bestee. Sy is getroud met mnr. Ruan van der Merwe en is dankbaar dat hy haar liefde vir perde ondersteun.

“Dit is vir my lekker om net daar te wees tussen die perde en om aan hulle aandag en liefde te gee.

“Daar is sowat 40 perde op die plaas en as myne my sien, kom hulle aangehardloop.”

Haar twee dogters ry graag perd en sy en haar man en seun ry nou en dan, want hulle fokus meer op perde se versorging.

Me. Van der Merwe wil perde-eienaars graag bemagtig met kennis en het onlangs ‘n inligtingsaand gereël waar ‘n veearts oor perdesiekte gepraat het.

Sy beplan om weer so ‘n aand te reël, want sy meen as mense kennis het, kan hulle hul perde help as die diere siek word.

Haar droom is om ‘n perdrysentrum op die been te bring waar mense vir terapie met perde kan gaan. Sy het reeds ‘n perseel, maar moet eers ‘n kursus in dié rigting voltooi.

“Perde het ‘n wonderlike uitwerking op mense. Hulle voel jou emosies aan as jy naby hulle is en is goed vir mense met depressie, asook gestremde kinders. Dit is al bewys dat mense wat verslaafd is of aan depressie ly, baie verbeter as hulle tyd met perde bestee.”

Sy beplan ook om kinderpartyjies by die perseel aan te bied waar kinders dan vir perderitte geneem sal word.

In haar vrye tyd doen me. Van der Merwe graag naaldwerk, maar sy maak spesifiek gordels en ander toebehore wat vir perde gebruik word.

Dié stokperdjie het sy Pelipa Equestrian wear genoem. Pelipa beteken vir die liefde van perde. Sy maak noodgordels vir perde wat dit benodig, asook enige items op spesiale versoek.

“Dit is vir my lekker om te weet die produkte wat ek maak, uniek en spesiaal vir ‘n spesifieke perd gemaak is en nie op winkelrakke beskikbaar is nie,” het me. Van der Merwe gesê.

Sy het ook al klere en maskers vir skole se revue-optredes gemaak.

Me. Susan van der Merwe by haar groot liefde.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button