Local newsNews

Bekende Secunda-karwag wil nou “aftree”

Hy verlaat elke oggend die huis in Voortrekkerstraat reeds om 6vm om die lang pad na Trichardt te stap en baie aande kom hy eers na sononder tuis.

SECUNDA – Die gehoor pla bietjie en die tande is maar min, maar op 72-jarige ouderdom loop mnr. Rudolf van Vuuren nog met ‘n huppel in sy stap.

Dié karwag is daagliks getrou op sy karwagpos voor Sabers op Trichardt.

Hy pas al vir jare lank motors in die omgewing op en is ‘n bekende gesig op die dorp.

Hy verlaat elke oggend die huis in Voortrekkerstraat reeds om 6vm om die lang pad na Trichardt te stap en baie aande kom hy eers na sononder tuis.

Soms is hy gelukkig om ‘n saamrygeleentheid te kry, maar ander dae, vertel mnr. Van Vuuren, gaan dit maar dapper stapper.

“Gelukkig is daar ‘n vriendelike vrou wat my nou gereeld in die middae aflaai.”

Mnr. Van Vuuren reken hy is nog sterk, want die Here gee vir hom goeie gesondheid.

Mnr. Van Vuuren woon by sy suster, me. Breggie du Preez, en haar kleinseun, mnr. Pieter Nel.

“Oom Rudie het byna 20 jaar gelede hier by ons ingetrek toe my oupa nog geleef het en hy het ook sommer gou in ons almal se harte ingetrek,” het mnr. Nel vertel.

“Hy is ‘n eenvoudige mens wat baie lief is vir sy mense en sy Here.”

Mnr. Van Vuuren is op Ganspan naby die Namibiese grens gebore. Hy is die jongste van drie kinders.

“Ons was baie arm en my ma kon nie vir ons sorg nie, toe moes ons maar na die kinderhuis op Kimberley gaan,” het hy vertel.

“Ek het nie in die gewone skool reggekom nie en is na ‘n nywerheidskool gestuur waar ek geleer het om met my hande te werk.

Die leerders het destyds diensprodukte gemaak wat op Kimberley verkoop is.

“Ek kan goed houtwerk doen,” het hy verduidelik.

Die belangrikste oomblik in sy lewe het in daardie tydstip gebeur.

“Ek was so 23 jaar oud en het gerook en gedrink. Ek het ook prente van vroue teen die mure in my kamer geplak.

“Maar toe gaan ek op ‘n kerkkamp na Riverton en daar het ek die Here ontmoet en my hart vir Jesus gegee.

“Ek was nooit weer dieselfde nie, want die Heilige Gees is nou by my.

“Ek het nooit weer gerook of gedrink nie en ek het ook nie weer só na vroue gekyk nie,” het hy gesê.

Juis dit het gehelp dat die lewe meer draaglik was toe hy destyds by sy oudste broer in die Kaap gaan woon het.

“Hulle het my ongelukkig verniel. Ek het vir jare daar gewoon, maar het nie eens ‘n bed gehad nie.”

Volgens mnr. Van Vuuren het daar op ‘n dag mense oor sy pad gekom wat hulle oor hom ontferm het.

“Hulle het my saam Port Elizabeth toe geneem en ek het daar by hulle gebly todat Breggie my opgespoor het.”

Dié broer en suster het destyds in die kinderhuis kontak verloor en me. Du Preez het etlike jare na haar kleinboet gesoek.

‘n Treinkaartjie is vir hom gekoop en me. Du Preez en haar oorlede man het destyds vir mnr. Van Vuuren op Johannesburg se stasie gaan haal.

Mnr. Van Vuuren was sedert hy destyds in Secunda aangeland het, ‘n karwag.

“Breggie het gesê dit is nou genoeg. Sy stal goedjies by markte uit wat sy self gemaak het en ek wil ook goed maak om saam met haar te verkoop,” het hy gesê.

“Dit is nie meer veilig om so te stap nie.”

Me. Breggie du Preez en haar broer, mnr. Rudolf (Rudie) van Vuuren, by hul stalletjie by die Eendedammark. Mnr. Van Vuuren wil nou ook begin om houtprodukte te maak en te verkoop.

Related Articles

Back to top button