Local newsNews

Jonkers geniet rugby en ander sport

Pa en drie seuns speel saam klubrugby

BETHAL – Sport is in die Jonker-gesin se bloed.

Riaan Jonker (50), beter bekend as “Brakkies”, se groot liefde is sport, veral rugby.

Een van sy rugbydrome is onlangs bewaarheid toe hy en sy drie seuns, Eben (18), Nico (21) en Riaan junior (26), beter bekend as “Piesang”, al vier vir Bethal Buffels Rugbyklub se eerstespan op die veld gedraf het.

“Ek het nog altyd gesê ek wil eendag saam met my seuns rugby speel,” het Brakkies vertel.

Die drie seuns het hul pa se rugbytalent geërf.

Ma Niekie Jonker staan ook nie terug as dit by sport kom nie. Sy en Brakkies ry gereeld fiets saam.

Brakkies het al agt keer die Argus-fietswedren voltooi.

Hy het op skool sy rugbytalent ontdek en in 1985 vir Ermelo Rugbyklub uitgedraf.

Hy is in sy hoërskooljare gekies vir Suidoos-Transvaal om aan die Craven Rugbyweek deel te neem en het destyds saam met die voormalige Springbokvleuel, Pieter Hendriks, in dieselfde span gespeel.

Ná skool is Brakkies ook gekies om vir die destydse Suidoos-Transvaalse 0/23-rugbyspan te speel. Hy het ná skool vir die korrektiewe dienste op Ermelo gewerk waar hy steeds daagliks sport beoefen het.

Hy is later na Bethal oorgeplaas, en het in 2004 bedank en by ‘n ingenieursonderneming begin werk.

Brakkies het van 1985 tot 1991 op Ermelo klubrugby gespeel en gesê dit was van sy lekkerste rugby wat hy nog gespeel het.

Hy het later, toe hy na Bethal verhuis het, vir Bethal Rugbyklub op die veld gedraf.

Brakkies het in 1999 weens ‘n bobeenbesering opgehou speel en hom meer op afrigting toegespits en begin fietsry.

Hy is al die afgelope jaar by Bethal Rugbyklub die hulpafrigter.

Brakkies het ook al drie sy seuns toe hulle nog op skool was, afgerig.

“Rugby is my passie. Ek het met dit grootgeword,” het Brakkies gesê.

Niekie het destyds vir die Suidoos-Transvaalse 0/21 netbalspan gespeel.

Sy ondersteun deesdae haar man en drie seuns van die kantlyn af.

Brakkies glo daarin om eerder met sy eie liggaamsmassa as met gewigte in ‘n gimnasium te oefen.

As hy nie op die fiets of rugbyveld is nie, doen hy oefeninge by sy huis.

Al drie die seuns het in hul pa se voetspore gevolg en ook provinsiaal rugby gespeel.

Nico het in gr. 6 vir die Pumas rugby en hokkie gespeel en in gr. 7 aan die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap deelgeneem.

Hy het die atleet, Llewellyn Herbert, se 100m rekord wat vir 21 jaar gestaan het, verbeter.

Al drie seuns het ook vir die 0/19 AVS Hoëveld Bokkies op die veld gedraf.

Brakkies glo daarin om altyd eerlik met sy kinders te wees en het op skool vir hulle gesê as hulle nie ‘n goeie wedstryd gespeel het nie.

“Maar ek het hulle wel gekomplimenteer as hulle goed gespeel het.”

Hy was die aand vóór die groot wedstryd saam met sy drie seuns op Saterdag, 2 Maart teen Nigel, nogal skrikkerig, want hy is nie meer vandag se kind nie, maar alles het wel goed afgeloop.

“Ek het die aand voor die wedstryd Skrif gekry wat lui: ‘Ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee’,” het Brakkies vertel.

Dit het hom moed gegee om voort te gaan en die wedstryd te speel.

Brakkies het in sy korrektiewe dienste-dae, ook aksiekrieket gespeel en aan die nasionale-kampioenskap deelgeneem.

Hy het op laerskool gimnastiek gedoen en ook in dié sport uitgeblink. Hy glo gimnastiek dwing ‘n mens om van natuurlike krag, soos jou eie liggaamsmassa gebruik te maak.

Brakkies het ook graag geboks toe hy jonger was en die Springbok-bokser, Wiele du Plessis, het Brakkies genader toe hy ‘n oefenmaat nodig gehad het. Brakkies het ook graag gedraf en aan nagwedlope deelgeneem.

“Ek hou van oefening. Ek moet oefen, dit laat mens goed voel en lekker slaap.”

In sy vrye tyd hengel hy graag of help sy vrou in en om die huis.

Brakkies het vroeërjare sy provinsiale kleure in hengel verwerf.

Hy sien uit na die res van die seisoen by Bethal Buffels Rugbyklub saam met sy seuns en die res van die span.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button