OPVOLG: Vriende poog om geld vir Ruan se begrafnisdiens in te samel, nadat hy deur sy twee honde doodgebyt is

Bure wat die oproer gehoor het, het die sekuriteitsmaatskappy om hulp gekontak.

OPVOLG –  6 April, 7.39nm 

Mnr. Ruan van Staden se vriende poog om geld in te samel vir sy begrafnisdiens nadat hy op 4 April deur sy honde doodgebyt is.

Mnr. Van Staden het nie ‘n begrafnispolis nie en daarom pleit sy vriende by alle Ermeloërs om hul harte oop te maak om sy pa, mnr. Lourens van Staden met die kostes by te staan.

Sy begrafnis sal op Donderdag 11 April omstreeks 10vm vanuit die PPK Gemeente in Generaal Hertzogstraat plaasvind.

Enige inwoners wat skenkings wil maak kan Hoëvelder-joernalis, me. René Joubert by 081 865 7340 skakel.

Mnr. Ruan van Staden. Foto: Facebook.

OPVOLG – 5 April, 11:30:

Die 20-jarige mnr. Ruan van Staden wat op Donderdagoggend 4 April deur sy twee honde doodgebyt is, was volgens Ermelo Polisie woordvoerder, kapt Carla Prinsloo, alleen tuis toe die voorval gebeur het.

Na bewering het ’n buurvrou die oproer gehoor en gesien dat die honde Ruan aanval.

“Sy het ’n skoot met ’n vuurwapen afgevuur in ’n poging om die honde te verwilder, maar nadat dit nie gehelp het nie, is Acsu gekontak, wat die honde van kant gemaak het,” het kapt. Prinsloo gesê.

Dit is nog nie duidelik wat daartoe gelei het dat die honde mnr. Van Staden doodgebyt het nie.


4 April, 11:30:

’n Inwoner van President Fouche-straat is dood nadat sy twee inheemse Suid-Afrikaanse ras honde hom aangeval het.

Bure wat die oproer gehoor het, het die sekuriteitsmaatskappy om hulp gekontak.

Polisie en nooddienste is steeds op die toneel besig.

Die Hoëvelder sal lesers op hoogte hou soos meer inligting bekend gemaak word.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version