Local newsNews

Teksa Bloeddiens se sr. Ansie Meintjies tree af

As ek dit moes oor doen, sal ek weer gaan verpleeg

SECUNDA – Bloedskenkers sal daaraan gewoond moet raak om eersdaags nie meer vir sr. Ansie Meintjes (63) by die Secunda-kliniek van die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) se Teksa-tak, te sien nie.

Dié vriendelike verpleegsuster wat geken is om pynloos ‘n naald in te glip en bloed te trek, tree op 29 Maart amptelik af.

“Dan gaan ek ‘n tuisteskepper wees en myself in my huis uitleef,” het sy vertel. Sy gaan ook haar drie kleindogters geniet.

Sr. Meintjes was van 2003 by die Teksa-bloeddiens betrokke en het ‘n bekende en geliefde onder die skenkers geword.

“Die bloeddiens was nog altyd vir my ‘n tuiste.

“Ek hou van die bloeddiens, veral omdat ons met gesonde mense gewerk het. Skenkers moet gesond wees en boonop wil hulle van hulself gee,” het sr. Meintjes verduidelik.

Sy het as kind in die Laeveld reeds besluit om eendag ‘n verpleegster te word.

“Dit was maerjare destyds, en ons ouers het nie een vreeslik baie geld gehad nie.

“Destyds was daar vir my slegs drie opsies om mee verder te leer, naamlik onderwys, verpleging, of die polisie.

“Verpleging was die beste keuse en ek is nie vir een dag spyt nie. As ek dit moes oordoen, sal ek weer gaan verpleeg,” het sy vertel.

Sr. Meintjies het in 1974 as jong 17-jarige haar verpleegsteropleiding in Pretoria aan die destydse HF Verwoerd Hospitaal (nou Steve Biko Hospitaal) begin.

“Ek het besef ek is ‘n gebore verpleegster. Ek het alles daarvan geniet.”

Pasiënte het altyd voorkeur behandeling by haar ontvang.

“My slagspreuk was altyd dat jy elke pasiënt moet behandel asof hulle jou ma, jou pa, jou broer of suster of jou man is. Behandel hulle soos jy jou hartsmense behandel wil hê.”

Voor sy op Secunda beland het, het sr. Meintjes eers op Standerton gewoon waar haar twee kinders, Jaco en Lourika grootgeword het.

Sy het in 2000 na Secunda verhuis en het eers by Lancet gewerk voor sy by die bloeddiens begin het. Sr. Meintjies is sowat 11 jaar gelede met mnr. Jimmy Meintjes getroud wat haar glo op sy hande dra.

“Ek het met my alie in die botter geval met hierdie man,” het sr. Meintjes vertel.

“Jimmy ondersteun my so baie.”

Die egpaar is albei ernstige bloedskenkers en het al saam-saam kanker geveg.

“Ek het al 93 eenhede geskenk. Ek doen dit om lewens te red, en ook om gesonder te wees.

“Skenkers leef langer en is langer gesond as nie-skenkers,” het sr. Meintjes verduidelik.

Sy en haar man is albei sedert 2017 in remissie nadat hulle binne drie dae uitmekaar uit met kanker gediagnoseer was.

“Jimmy is eerste met prostaatkanker gediagnoseer. Drie dae later het ek die nuus gekry dat ek skuldklierkanker het.”

Die egpaar het mekaar deur dié donker tyd gedra. Hulle het albei in 2017 operasies ondergaan en is sedertdien kankervry.

Sr. Meintjes het gesê sy gaan haar kollegas en die skenkers baie mis, maar sy sien daarna uit om ‘n nuwe fase in haar lewe in te gaan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button