Vlekkie oorleef drie weke op ’n lysie onder in ’n mangat in Secunda

Die 17-jarige hondjie, Vlekkie se bene was so opgekramp, want hy het vir die hele tyd daaronder geen beweegruimte gehad nie

SECUNDA – Vlekkie, ‘n Jack Russell-kruising, is na drie weke se ontberinge weer veilig tuis in sy oubaas se arms.

Dié woef wat 17 jaar oud is, was vasgekeer in ‘n riool-mangat in die groenstrook tussen Danie Theronstraat en die agterkant van die Panorama-woonstelle.

Hy is net betyds van ‘n gewisse dood gered danksy sy eienaar, mnr. Hendrik Swanepoel, en dié se familie wat nie wou opgee in hul soektog na sy liefling-hondjie nie.

Mnr. Swanepoel woon eintlik op Bethal, maar kuier gereeld by sy ma. me. Elize Swanepoel in Danie Theronstraat.

Hy en Vlekkie was juis weer op 19 Februarie, die dag van Vlekkie se verdwyning, by me. Swanepoel aan huis, want hy en sy broer, André moes die volgende dag Bloemfontein toe gaan.

Te oordeel aan die ekstase op Vlekkie se gesig en sy algehele oorgawe aan sy eienaar, mnr. Hendrik Swanepoel se streling, het dié bejaarde brakkie al klaar van sy oorlewingsage vergeet.

Hul pa, mnr. Thys Swanepoel, het op 20 Februarie, ‘n hartoperasie in Bloemfontein ondergaan.

“Ek het vir Vlekkie en my ander hondjie, Sheila, vir my ma gebring om op te pas terwyl ons by my pa is,” het mnr. Swanepoel verduidelik.

Hy het dié agtermiddag met die twee hondjies in die groenstrook gaan stap. Die gras was verskriklik lank.

“Ons het tot by voetpaadjie tussen Kosmos-woonstelle en Panorama-woonstelle gevorder voordat ons terug huis toe gedraai het.

“Vlekkie was die een oomblik nog agter my en toe ek weer kyk, was hy net weg,” het mnr. Swanepoel vertel.

“Ek het geroep en geroep, maar die ou man was nêrens te vind nie.”

Mnr. Swanepoel het dié aand op en af geloop en soek. Hy het later selfs straatlangs geloop en roep indien Vlekkie dalk ‘n wyfie iewers geruik het.

Hy het naderhand ook vir me. Chantel Vorster van die Secunda Verlore Diere-groep en die Paws 911-kanaal op Zello genader.

Mnr. Swanepoel se ma en seuns, Danie en Eben, het die soektog voortgesit terwyl hy en André in Bloemfontein was.

Me. Elize Swanepoel en Vlekkie gaan kyk hoe die gat lyk waarin Vlekkie drie weke gelede geval het.

Veiligheidswagte by die woonstelblokke het ook geweet daar word na ‘n Jack Russell gesoek.

Eben is deel van die Secunda GPF en het ook almal wat patrollie doen, gevra om op die uitkyk vir Vlekkie te wees.

Volgens me. Swanepoel het sy daagliks vir die hondjie se behoud gebid.

“Ek het heeltyd gevoel hy is naby. Ek het selfs ‘n droom gehad dat Vlekkie weer by die huis is, maar dat hy na riool stink,” het sy Saterdag vertel.

Vlekkie was egter steeds weg teen die tyd dat die Swanepoel-broers vanaf Bloemfontein teruggekeer het.

Mnr. Swanepoel moes noodgedwonge weer terug Bethal toe, maar het deurentyd met me. Vorster gekommunikeer.

Die deurbraak het Woensdagaand, 6 Maart, gekom toe ‘n veiligheidswag vir André se vriendin wie in die Panorama-kompleks woon, me. Miena Brits, vertel het dat hy ‘n hond in die drein gehoor het.

Te oordeel aan die ekstase op Vlekkie se gesig en sy algehele oorgawe aan sy eienaar, mnr. Hendrik Swanepoel se streling, het dié bejaarde brakkie al klaar van sy oorlewingsage vergeet.

Teen hierdie tyd was die groenstrook se gras al gesny en was dit makliker om daar te beweeg.

“Dit was seker teen 8nm toe ons besluit het om die soektog af te las en Chantel huis toe is,” het mnr. André Swanepoel vertel.

“Ek was egter onrustig en het besluit om verder te soek. So het ek al langs die kompleks se pallisades afgestap todat ek water gehoor het.

“En sowaar, net ‘n paar treë van my af het ek byna self in ‘n oop riool-mangat getrap. En daar gewaar ek toe ook vir Vlekkie waar hy opgekrimp op ‘n dun lysie gesit het.”

André se regtersleutelbeen is gebreek en hy moet sy arm in ‘n stut dra, maar hy het die stut afgeruk en twee lede van die GPF wat op daardie tydstip daar verbygekom het, om hulp gevra.

Hy het self in die gat afgeklim, Vlekkie opgeraap en vir die ander mans aangegee.

Vlekkie is inderhaas saam met sy redder huis toe waar hy in antiseptikum gebad is en toe water, rys en lewer ingegee is.

Die hond wat voorheen spekvet was, is nou geweldig uitgeteer.

“Vlekkie se bene was so opgekramp, want hy het die hele tyd daaronder geen beweegruimte gehad nie.

“Hy het stukkende plekke en skaafmerke aan sy lyf, waarskynlik weens die stryd om bo-op die lysie te bly,” het André vertel.

Hy het daardie nag bly tob oor wat deur die dier se kop moes gegaan het.

Vlekkie se baas se oë het Saterdag kort-kort vol trane geskiet terwyl hy met die Ridge Times gesels het.

“Ek is ongelooflik dankbaar dat Vlekkie nou weer veilig is. Hy is soos ‘n kind in die huis.”

Vlekkie, die 17-jarige hondjie wat drie weke in ’n mangat oorleef het, is saam met sy redder, mnr. André Swanepoel.
Vlekkie, die 17-jarige hondjie wat drie weke in ’n mangat oorleef het, is saam met sy redder, mnr. André Swanepoel.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version