Burgerregte-organisasie knap Bethal op met slaggat-projek

AfriForum het ook vandeesweek begin met ’n grassny-projek begin om die dorp netjies te maak

BETHAL – Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het onlangs hul aaneenlopende slaggat-projek vir 2019 begin.

Verskeie lede en individue vanuit die gemeenskap was Dinsdagoggend, 5 Maart, reeds vroeg doenig met die herstel van slaggate in Ribbokstraat.

Hulle het later die dag ook die gate in Blesbokstraat aangepak.

Mnr. Hennie Bekker, die streeksorganiseerder vir Afriforum, het gesê Dinsdag se werk is ‘n voortsetting van die werk wat reeds in 2018 begin is.

Die organisasie het verlede jaar sowat 2 500 sakke teer gebruik om slaggate in die dorp op te vul en te herstel.

“Ons het vanjaar net so bietjie kans gegee dat die ergste van die reënseisoen verby is, voordat ons weer die strate ingevaar het, ” het mnr. Bekker verduidelik.

Die span het Dinsdag reeds die eerste 200 sakke teer gegooi wat aangekoop is uit die donasies wat hulle van die inwoners van Ribbok- en Blesbokstraat ontvang het.

Volgens mnr. Bekker het AfriForum ingespring en Bethal se strate self begin herstel omdat die Govan Mbeki Munisipaliteit nie tot dié werk in staat is nie.

“Ons kla al vir jare. Daar is wel in Desember ‘n poging aangewend om gate te vul, maar die munisipaliteit se werk was sub-standaard en is reeds weer uitgetrap,” het mnr. Bekker gesê.

Hy het motoriste gevra om meer verdraagsaam teenoor die werkers te wees en om geduldig te wees wanneer die teer nog nat is.

“Ek vra ook hulp in enige vorm. Ons benodig vrywilligers, skenkings, teer en geld om die projek volhoubaar te maak.”

Die vrug van hierdie arbeid sal op die uiteinde tot alle padverbruikers se voordeel strek.

AfriForum het ook vandeesweek begin met ‘n grassny-projek om die dorp netjies te maak.

Die Bethal-polisiestasie se grasperk was die eerste om opgeruim te word. Belangstellendes kan vir mnr. Bekker skakel by 081 217 6091

Mnre. Samuel Mayaba, Lt Kol Petrus Nzima (bevelvoerder van Bethal-polisiestasie), Hennie Bekker (AfriForum) en Goodman Mtsetwa het op Dinsdag, 5 Maart gesorg dat die gras rondom die stasie gesny word.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version