Local newsNews

Isabel Watson wil lewe vir haar seuntjie – benodig dreineringspyp in haar brein

"My seuntjie vra gereeld vir my wanneer ek weer hospitaal toe gaan, sodat hulle my kan beter maak en ek dinge saam met hom kan doen. Ek lê meestal omdat die hoofpyn so erg is."

SECUNDA – Me. Isabel Watson (41) se grootste wens is om haar seuntjie, Raven (8), self na rugbyoefeninge te neem en te kyk hoe hy speel.

“Vir ander mense is dit normaal om dit te kan doen, maar nie vir my nie,” het me. Watson gesê.

Sy is aan die einde van 2014 met borskanker gediagnoseer.

Sy het in 2015 eers chemobehandeling ondergaan voordat sy ‘n dubbele mastektomie gekry het.

Die limfnode onder haar arm is ook verwyder, en in 2017 het sy bestraling gekry om seker te maak die kanker kom nie weer terug nie.

Me. Watson het in die begin van verlede jaar die diagnose van gewasse in haar baarmoeder ontvang.

Gewoontlik is gewasse die beginstadium van baarmoederkanker en dus moet sy nou elke 12 weke inspuitings ontvang.

Sy het Mei verlede jaar begin sukkel met hoofpyn en is na Evander Hospitaal waar dokters haar pille gegee het en huis toe gestuur het.

Haar bloeddruk het egter gevaarlik hoog gebly en is sy weer terug na Evander Hospitaal waar die dokters vir haar gesê het om eerder na ‘n hospitaal in Gauteng te gaan waar sy al voorheen was.

Haar verloofde het me. Watson na die hospitaal geneem waar sy verskeie ondersoeke en skanderings ondergaan het.

“Die dokters het eers gedink dat ek ‘n beroerte gehad het, omdat ek begin sukkel het om te loop en praat,” het me. Watson gesê.

Toetse het egter getoon dat dit nie ‘n beroerte was nie, maar dat me. Watson hoofpyne gekry het weens drukking op haar brein.

Dokters het gesê sy het vog op haar brein gehad en sy moes vir drie dae lendesteke (lumbar punctures), ondergaan om die vog te dreineer.

Sy is sedertdien gereeld in en uit die hospitaal en was vanaf Augustus tot November verlede jaar net twee weke by die huis.

Me. Watson het 42kg in dié tyd verloor.

Volgens die dokters moet sy ‘n dreineringspyp in haar brein kry om die vog te dreineer, maar by die staatshospitaal waar sy tans behandeling ontvang, het hulle dit nog nie gereël nie.

“My seuntjie vra gereeld vir my wanneer ek weer hospitaal toe gaan, sodat hulle my kan beter maak en ek dinge saam met hom kan doen. Ek lê meestal omdat die hoofpyn so erg is.”

Me. Watson gaan maandeliks na die staatshospitaal in Gauteng om medikasie vir die pyn te kry en sy sien ‘n neuroloog by dié hospitaal elke vier maande.

Omdat sy al angsaanvalle gekry het, ontvang sy kalmeerpille, slaappille en nog ander medikasie.

Sy kan ook nie meer vleis of harde kosse eet nie, want haar kakebeen raak te seer.

“Ek maak sagter kosse fyn vir my om te eet.”

Me. Watson en haar verloofde kan nie ‘n mediese fonds bekostig nie.

Sy het altyd met die staatsbussie Gauteng toe gery as sy hospitaal toe moes gaan, maar weens die ver ente wat sy vanaf die bussie na die hospitaal moes loop, is dit nie meer moontlik nie.

“Nou moet my man ‘n dag se verlof by die werk insit om my te neem as my vriendin my nie kan hospitaal toe kan neem nie.”

Me. Watson het me. June Schutte en me. Tanya Engelbrecht wat haar ondersteun en bystaan, asook Laerskool Kruinpark bedank.

Sy het graag gebak en brou voordat sy siek geword het, maar deesdae is dit vir haar te uitputtend om ordentlik kos te maak.

“Ek maak deesdae net maklike, vinnige disse vir my gesin want ek kan nie meer so lank voor die stoof staan nie.”

Sy lewe vir haar seuntjie, Raven.

“Ons het hard gebid vir hom want hy was baie siek nadat hy gebore was. Hy was vir drie maande op suurstof.

“Die Here het hom egter genees en ons is baie dankbaar.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button