Christine van der Merwe van Trichardt hou op verpleeg na bykans vier dekades

Sy glo verpleging is ’n roeping, nie net ’n werk om kos op die tafel te sit nie.

TRICHARDT – Die tyd het nou vir me. Christine van der Merwe (69) aangebreek om haar verpleegterskoene uit te skop en sustersepoulette weg te pak.

Ná bykans vier dekades van siek mense versorg, sien me. Van der Merwe uit om meer tyd aan haar kleinkinders, haar tuin en die lapa met harte-versameling te bestee.

Sy vier haar 70ste verjaardag op 3 Maart en stap nog kiertsregop en doelgerig in haar blou hofskoentjies met so’n effense hakkie.

In die sustersuniform lyk sy geensins haar ouderdom nie.

Aan haar lekker gesels kan ‘n mens agterkom dat ‘n nagskof niks meer op haar het nie.

Me. Van der Merwe het vir die meeste jare van haar loopbaan as suster slegs nagskof gewerk sodat sy bedags haar vier kinders, Veronica, Jannie, Kosie en Gert, kon versorg.

Dit het vir haar ‘n instelling geword, selfs nadat die kinders al uit die nes was totdat sy vir die eerste keer “afgetree” het.

“Ek moes op 63 by die Mediclinic Hoëveld op pensioen gaan, maar skaars ‘n week later het die MediNurse-agentskap geskakel en ek het sederdien steeds skofte by die hospitaal gewerk.

“Ek was gelukkig ook nie rondgeskuif nie, maar het al die jare in saal G gewerk.”

Verpleging was nog altyd in dié plaasnooi se bloed.

“Ek was omtrent nege jaar oud toe my broer en suster, Hendrik en Maria, polio opgedoen het. Hulle moes in Pretoria behandel word.

“Ek onthou nog goed hoe daardie verpleegsters my beïndruk het. Ek het daar vir my pa vertel ek wil ook graag eendag verpleeg. My suster het ten volle herstel, maar my broer het meer aandag geverg.

“Ek het dit baie geniet om hom te versorg,” het me. Van der Merwe vertel.

Sy het op ‘n plaas in die Leslie-distrik grootgeword en het aan Hoërskool Hoogenhout matrikuleer.

Hierna is sy na die destydse Pretoria Akademiese Hospitaal (nou Steve Biko-hospitaal) vir opleiding in algemene verpleging en toe later in die kraam-afdeling.

“Ek was destyds nog jonk, maar die kraamsaal het my geensins daarvan afgesit om my vier kinders te baar nie,” het sy vertel.

Me Van der Mewe het haar destydse man, Gerrie, in die hospitaal in Boksburg waar sy toe gewerk het, ontmoet – hy is ook ‘n boerseun uit Trichardt se wêreld.

Hul jongste spruit was skaars drie jaar oud toe me. Van der Merwe weer begin verpleeg het.

Sy het vir 11 jaar in Bethal Hospitaal verpleeg en toe vir 20 jaar as nagbestuurder by Mediclinic Hoëveld wat destyds as die Hydromed begin het.

“Dit was ‘n baie verantwoordelike werk met baie papierwerk. Toe ek sewe jaar gelede by MediNurse begin het, het ek weer die kans gekry om terug te gaan na my eerste liefde, wat pasiëntverpleging behels.”

Dit het ook geverg dat sy die meeste van die tyd op haar voete deurgebring het, maar solank sy haar sykouse en hakskoene aangehad het, het dit geensins gepla nie.

Sy glo verpleging is ‘n roeping, nie net ‘n werk om kos op die tafel te sit nie. As enkelouer het sy baie hard gewerk om vir die kinders te sorg en het sy ook melk en eiers deeltyds verkoop.

Me. Van der Merwe het as verpleegster deur die jare baie mense in die omgewing leer ken en hul lief en leed gedeel, maar die ergste vir haar was om haar eie mense in die hospitaal te sien.

“Ek het my asvaal geskrik toe Gert eendag vol bloed by die hospitaal opgedaag het na ‘n ongeluk. Dan was daar ook die tyd toe my pa daar oorlede is.

“Ek gaan die verpleging mis, maar ek dink dit gaan lekker wees om meer tyd saam met my vriendinne, die kerk se bybelstudie en in my tuin te bestee.

“Die harteversameling groei ook sterk aan,” het me. Van der Merwe gesê.

Haar laaste amptelike werksdag was 12 Februarie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version