Local newsNews

Evander ingenieur ernstig beseer in motorongeluk, weke voor sy troue

Mnr. Ruan van Deventer se vriendekring het verskeie aksies geidentifiseer waarmee hulle kan help om geld vir sy familie in te samel.

EVANDER – Mnr. Ruan van Deventer (28) en me. Kayleigh van Rensburg sou oor minder as ‘n maand hand-in-hand voor die kansel gestaan het.

Nou waak sy skoolliefde van bykans 11 jaar egter langs sy hospitaalbed in die Union Hospitaal in Alberton.

Mnr. Van Deventer is ernstig in motorongeluk wat op 19 Januarie in Cambournestraat, Evander gebeur het, beseer.

Hy was saam met sy beste vriend, Kenneth Kinghorn, in die motor toe dit net voor sononder sowat ses huise van sy ouerhuis teen ‘n boom gebots het.

Mnr. Van Deventer het ernstige hoof- en gesigbeserings opgedoen.

Hy is ná die ongeluk vanaf die Mediclinic Highveld in Trichardt na die Union Hospitaal in Alberton oorgeplaas. Hy is tans in dié hospitaal se waakeenheid.

Hoewel mnr. Kinghorn ook beseer is, is hy reeds uit die hospitaal ontslaan.

Mnr. Van Deventer, ‘n stelselingenieur by EOH in Secunda, het op Evander grootgeword en het ‘n groot vriendekring wat almal wil inspring om geld in te samel om me. Van Rensburg en haar aanstaande skoonouers, mnr. André en me. Karin van Deventer, te ondersteun.

Die Van Deventer-egpaar moet in Alberton vertoef om ten alle tye beskikbaar te wees indien toestemming vir enige prosedures op hul enigste kind benodig word.

Me. Kayla van Greunen, ‘n hegte familievriend van die Van Deventers en me. Van Rensburg, het Vrydag met toestemming van die gesin, gesê Ruan is kritiek.

“Hy gaan vir nog baie lank in die hospitaal wees. Ook as hy uitkom, gaan sy herstelproses lank neem.”

Volgens me. Van Greunen sal dit dus vir sy ouers en verloofde makliker wees om verblyf in Alberton te huur en tydelik daar te woon, in plaas daarvan om daagliks heen en weer te pendel.

Mnr. Van Deventer se vriendekring het verskeie aksies geïdentifiseer waarmee hulle kan help om geld vir sy familie in te samel.

“Ons gaan begin om water te verkoop. Ons het 700 5l-bottels water wat ons graag teen R15 per bottel wil verkoop.

“Ons kan dit by jou huis aflaai of ‘n oplaaipunt reël. Elke sent wat ons inkry, gaan net so na die familie toe,” het me. Van Greunen gesê.

Mense kan ook donasies gee. Belangstellendes kan haar skakel by 082 759 3601.

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/ridge-times/131236/er24-airlifts-boy-run-bicycle-evander/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button