Ina en Nadia is passievol oor perde

Pretdag en uithouritte was 'n groot sukses

TRICHARDT – Me. Ina Heiberg en me. Nadia Kruger se passie is perde.

Me. Heiberg het Maggie’s Ranch in 2014 op Plaas Holfontein buite Trichardt begin en later het me. Kruger by haar aangesluit om te help met die moeilike besluite.

Me. Heiberg het die stalle in 2014 begin bou, maar eers in 2016 mense ingekry en amptelik Maggie’s Ranch oopgemaak.

Beide dié vroue het ‘n groot liefde vir perde en hul eie perde loop ook op die plaas rond.

Me. Kruger ry perd soveel as wat sy kan tussen werk en studies deur en help op die plaas, terwyl me. Heiberg haar meer op die versorging van die perde en die reël van perdrydae en geleenthede toespits.

Maggie’s Ranch het tot stand gekom nadat me. Heiberg se perd, Maggie, wat altyd by Unicordam gebly het, siek geword het en sy haar eerder in ‘n stal moes laat staan as buite in die veld.

“Ek het ‘n plek gesoek om my perd te stal en self te versorg. Met my liefde vir perde en om na ander mense se perde om te sien, het ek uiteindelik by Plaas Holfontein uitgekom,” het me. Heiberg gesê.

Sy het die hokke van die melkbeeste op Plaas Holfontein opgebou tot die perdestalle wat dit vandag is.

Ongelukkig het sy het nie geld gehad om die stalle te bou nie en het ‘n ander plan beraam deur mense se afvalrommel gratis weg te ry en dit dan te gebruik om haar stalle mee te bou.

Me. Ina Heiberg kan nie meer so baie perdry nie, maar as sy die geleentheid kry, is sy op haar perd se rug.

Me. Heiberg was van kleins af lief vir perde en het Maggie as ‘n Kersgeskenk ontvang.

Sy het haar kinderjare op ‘n plaas bestee waar haar ma ‘n winkel bedryf het.

Me. Kruger het sedert sy vier-jaar-oud was op haar oom se plaas op Newcastle perd gery, maar sy het in 2010 ernstig saam met ‘n vriendin begin ry en ook haar eie perde aangeskaf.

Sy werk voltyds as veiligheidsbeampte op die myne om Secunda en me. Heiberg werk ook voltyds by Sasol as administratiewe beampte.

Me. Heiberg het vir die eerste keer ‘n uithourit en pretdag op Saterdag, 12 Januarie aangebied.

Die doel van dié dag was om meer mense die kans te bied om perd te ry en om dié sport saam as familie te beoefen.

Hoewel daar ‘n kommunikasie-probleem was met ‘n ambulansdiens van die staat wat nie opgedaag het om die dag diens te doen nie, het me. Heiberg die dag as ‘n groot sukses beskryf.

“Daar het ‘n tienerseun van sy perd afgeval, maar hy is ‘ok’,” het me. Heiberg gesê.

“Ons het voertuie gestuur om hom en sy perd te gaan soek en sy ouers en mense van Maggie’s Ranch het hom daarna na die hospitaal geneem vir ‘n ondersoek.

“Hy het net ‘n spier verrek.”

Me. Heiberg hoop om weer vanjaar pretdae en uithouritte te reël. Sy het mnr. Zulu Saley, haar werkers, mnr. Christopher Nel (hoefsmit), mnr. Willie Roelofse, mnr. Christo Bezuidenhout, haar ouers, en almal wat gehelp het om die dag suksesvol te maak, vir hulle harde werk en voortdurende ondersteuning, bedank.

Sy het mnr. Kosie van der Merwe, wat haar die kans gegee het om haar droom te bewaarheid, en om sy grond te gebruik, ook bedank.

Me. Ina Heiberg en me. Nadia Kruger by een van hulle perde.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version