Local newsNews

Vyfjarige Michael Nortjé is tuis na weke in die hospitaal

Daar is al vir ons vertel dat Michael nie weer sal kan loop nie, maar niemand het nog aan ons verduidelik hoekom nie

KINROSS – Michael Nortjé se ouers het nog nie ‘n duidelike antwoord ontvang hoekom hul seuntjie nie kan loop nie.

Hoewel ‘n agt-ton-vragmotor op 18 Oktober oor dié vyfjarige gery het, het skanderings getoon dat Michael geen spinale beserings opgedoen het nie.

Selfs sy linkerbeentjie wat erg gebreek het, was nie vergruis nie.

Michael het eintlik die dood wonderbaarlik vrygespring en is hy ná ‘n paar weke in die Sunshine Clinic in Benoni weer terug by die huis.

Die Nortjé-gesin woon op ‘n werf oorkant die silos op Kinross vanwaar mnr. Walter Nortjé (Michael se pa) die AA Locksmithwerkswinkel bedryf.

Die Nortje-kinders is Alex (8), Michael (5) in die rolstoel, Johan (9) en Sulanica (2). Hul baba-boetjie Morné het geslaap toe die foto geneem is. Hy word binnekort een-jaar-oud.

Michael, die middelste van vyf kinders, het daardie dag ongesiens uit die huis geglip en sowat 200m daarvandaan agter op ‘n vragmotor gaan speel.

Die motorwerktuigkundige wat herstelwerk aan die vragmotor gedoen het, het juis toe besluit om sy handewerk te beproef.

Hy was heeltemal onbewus van Michael se teenwoordigheid.

Michael se ouboet, Johan (9) het heelwat later op die beseerde seuntjie afgekom. “Hy was vol bloed,” het Johan verlede Donderdag aan die koerant vertel.

Michael se been was geopereer en penne is ingesit. Sy skedel was gekraak en sy sleutelbene was gebreek, maar hy het geen bloeding op die brein gehad nie en het ook nie inwendige beserings opgedoen nie.

Michael was met Ridge Times se besoek verlede Donderdag besig om na die ongeluk se storie in ‘n nasionale tydskrif te kyk.

Hy is reeds heel behendig om in sy rolstoel rond te beweeg, selfs oor die ru-terrein van die werf.

‘n Ekstra kussingtjie is onder hom ingeskuif sodat sy kort armpies makliker by die rolstoel se wiele kan uitkom.

Hy is gereeld buite om te speel, want ‘n huis kan taamlik beknop raak wanneer jy dit met jou ouers, vier sibbe, jou grootouers en jou pa se werkswinkel moet deel.

Die gesin se oorspronklike huis is ‘n paar jaar gelede in ‘n weghol-veldbrand verwoes en was hulle toe genoodsaak om in die geboutjie van die werkswinkel te trek.

Dié Nortjé-boeties, Johan (9), Michael (5) en Alex (8) laat nie toe dat ’n rolstoel met hul speeltyd inmeng nie.

Die penne is nog in Michael se been en hoewel hy dit voel wanneer iemand sy voete aanraak, kan hy nie sy maer beentjies beweeg nie.

“Hy is eintlik weer sy ou self en kan lekker stout wees en kan veral sy sussie verpes. Hy is egter meer ontsteld daaroor dat hy weer doek moet dra,” het me. Nortjé vertel.

Me. Nortjé het hom Maandag weer na Sunshine Clinic vir ‘n opvolg besoek geneem. Michael is ook deur deskundiges geondersoek vir ‘n eis teen die Padongelukfonds.

“Daar is al vir ons vertel dat Michael nie weer sal kan loop nie, maar niemand het nog aan ons verduidelik hoekom nie.

“Ek glo egter dat hy weer uit die stoel sal kan opstaan. God het dit nog nie aan my bevestig dat Michael vir altyd verlam sal wees nie.

“Buitendien is daar ook onlangs oor hom geprofeteer dat hy weer sal loop,” het me. Nortjé gesê.

Sy het almal wat in die tyd na hul uitgereik het en vir die gesin gebid het, bedank.

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/ridge-times/126820/michael-sterk-goed-aan-in-hospitaal-na-hy-onder-vragmotor-beland/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button