Eunice van Staden geniet mense en bewegings

Fisioterapeute verwys gereeld hul pasiënte na me. Van Staden omdat die Pilates-klasse ook baie help vir beserings.

SECUNDA – Me. Eunice van Staden bied gespesialiseerde Pilates-klasse aan vir kinders en swanger vroue.

Sy het op Secunda grootgeword en ná skool ‘n jaar saam met die bedieningsspan wat spesifiek op die jeug fokus, Metamorpha, bestee waar sy gemeenskapswerk gedoen het en deel was van uitreikaksies.

“Dit was ‘n jaar van selfontdekking en avonture,” het me. Van Staden gesê.

Sy wou fisioterapie studeer, maar het nie toelating gekry nie en het besluit om ‘n skoonheidskursus te volg.

Sy het vir ‘n jaar op Paarl skoonheid studeer, maar sy het haar familie op Secunda te veel gemis en besluit om in Pretoria verder te studeer.

Van haar vakke was berading, menslike bewegingskunde, besigheidstudies en dermatologie.

Me. Van Staden het ná haar studies as skoonheidsterapeut by verskeie skoonheidsalonne op Secunda gewerk voordat sy haar eie skoonheidsalon by haar ouerhuis oopgemaak het.

Me. Eunice van Staden wys ’n Pilates-beweging.

Sy het later ekseem op haar hande gekry weens al die produkte en dit was vir haar moeilik om in die salon te werk.

 

“Ek het toe vir die Here gevra, wat nou, want ek het skoonheid studeer en hoe gaan ek dit nou doen.”

 

Sy het sedert haar hoërskooldae by Nicolette Brooks Dansskool klasse geneem en sy het gehou van mense en beweging.
Dit het gelei tot haar besluit om haarself te bemagtig met Pilates-kursusse.

 

“Ek wou op ‘n stadium ‘n dansinstrukteur word, want ek hou van mense en van beweging, so toe was die Pilates ‘n goeie keuse vir my.”

 

Me. Van Staden het, terwyl sy by Nicolette Brooks Dansskool klasse geneem het, al begin om ook Pilates-klasse te doen.
|
Sy het agtergekom Pilates help haar baie met haar dansbewegings.
Sy het later vir ‘n ruk ook dansklasse by die dansskool aangebied.

Die vrou by wie me. Van Staden Pilates-klasse geneem het, het swanger geraak en opgehou om klas aan te bied en het vir me. Van Staden gevra om aan te gaan met haar klasse.

Die vrou het later getrek en me. Van Staden het saam met ‘n ander vrou die klasse oorgeneem.

Sy het haarself touwys gemaak en gespesialiseerde kursusse in Pilates gedoen, onder andere Pilates vir swanger vroue, Pilates vir kinders, Pilates vir mans en Pilates vir driekamp-atlete.

 

“Dit is bevind dat Pilates kinders help met hul postuur en om beter te konsentreer op skool.
“Vandag se kinders beweeg nie so baie soos vroeër jare nie weens tegnologie.
“Kinders sal eerder op hul selfone of tablette speel as om buite te speel.”

 

Fisioterapeute verwys gereeld hul pasiënte na me. Van Staden omdat die Pilates-klasse ook baie help vir beserings.

 

Me. Eunice van Staden met haar dogtertjie, Lidia.

Me. Van Staden is getroud met mnr. Roland van Staden, ‘n vlieënier, en die egpaar het ‘n dogtertjie, Lidia, wat nou 18 maande-oud is.
Sy bied ook masseringsklasse aan waar sy ma’s leer om hul baba’s te masseer, asook weeklikse klasse by Moove Gimnasium.

 

In haar vrye tyd geniet me. Van Staden dit om te lees of tyd met familie te bestee.
Sy en haar man besoek ook graag markte waar vars produkte verkoop word of hulle gaan vlieg.

Exit mobile version