MunicipalNews

Waterprobleme op dorp duik weer op

Nóg ’n inwoner, me. Petro van Jaarsveldt, het haar na sosiale media gewend en haar misnoeë met die munisipaliteit bekendgemaak.

Hetsy dit nou krag-, water- of rioolprobleme is, inwoners het moed opgegee met die Lekwa Munisipaliteit wat nie basiese dienste doeltreffend kan lewer nie.

Verlede week het waterkwessies in Caledonstraat, Kerkstraat, Charl Cilliersstraat, Paarlstraat, Kosmospark asook ander gebiede onder die loep gekom, met inwoners se pleidooie wat op dowe ore val.

Mnr. Braam Lotter in Caledonstraat het tydens ’n vorige geleentheid genoem dat hy al sowat R10 000 se onkoste aangegaan het om water te bekom sedert dié probleme opgeduik het.

Hy het ’n tenk en pomp met drukmeter laat installeer en het aan die Advertiser demonstreer hoe laag die druk in die pype is.

“Dit is ’n skande dat daar nie in belastingbetalers se basiese behoeftes, wat ook ’n mensereg is, voorsien kan word nie.”

Sy probleem is sedert die berig in die Standerton Advertiser op 26 Oktober verskyn het, steeds nie opgelos nie.

Nóg ’n inwoner, me. Petro van Jaarsveldt, het haar na sosiale media gewend en haar misnoeë met die munisipaliteit bekendgemaak.

“Elke dag is die water af, ek het 4.30vm, nog met toe oë, wasgoed gewas.

“Die water kom eers 11nm aan en na 6vm kan jy maar vergeet om nog water te kry.”

Volgens haar, is dit al vir weke so.

Mense probeer ook die saak aanmeld by die munisipaliteit, maar die oproepsentrum is gereeld van lyn af.

’n Betroubare bron het tydens ’n soortgelyke geval, lig op die saak gewerp.

Die persoon het verwys na die netwerk wat oud is en pype, asook kleppe, wat die munisipaliteit lankal reeds moes opgradeer het.

Volgens die persoon, laat die munisipaliteit se huidige finansiële verknorsing dit nie toe nie.

Die persoon het ook gesê dat die munisipale werkers wat wel probeer om hier en daar sake te beredder, se hande afgekap is omdat stoorkamers, waar spaaronderdele aangehou moet word, leeg staan.

“Waterlekke oral op die dorp dra net verder by tot die watertekort, asook lae druk in die toevoerpype.”

Me. Thobeka Mtshiselwa, kommunikasiebestuurder van die munisipaliteit, is oor die waterkwessies per WhatsApp en e-pos gevra, maar het nie teen druktyd reageer nie.

Related Articles

Back to top button