Michelle Deysel wil deur broodgespes-projek ’n rolstoel in 2019 aan ’n behoeftige persoon vir Kersfees skenk

Omdat me. Deysel self van ’n rolstoel gebruik maak, vertel sy dat sy die behoefte verstaan vir mense om ’n gemaklike stoel te hê.

Me. Michelle Deysel van Ermelo wil deur broodgespes in te samel, ‘n rolstoel in 2019 aan ‘n behoeftige persoon skenk.

Sy is sedert haar geboorte verlam en het nog altyd ‘n begeerte om ander te help, maar om in ‘n rolstoel te wees het sy uitdagings.

“Ek is gedurig op sosiale media besig opsoek na manier om ander mense te help en het só op die broodgespes-projek afgekom,” het sy vertel.

Die “Breadtags for Wheelchairs“-projek vereis dat ‘n daar ongeveer 200 broodsakke vol broodgespes of 200kg inhandig word om so ‘n nuwe rolstoel aan ‘n behoeftige persoon te skenk.

Me. Mary Honeybun het die organisasie in 2006 in Kaapstad gestig en hulle verskaf elke maand twee tot drie rolstoele aan volwassenes en kinders landswyd.

Broodverpakkingsgespes word gemaak van hoë impak polistireen en het ‘n goeie herwinningswaarde.

So maak dit ook ‘n verskil in ons omgewing.

Sy het in Junie vanjaar van die projek te hore gekom en het dadelik ingespring om die gespes bymekaar te maak.

Omdat me. Deysel self van ‘n rolstoel gebruik maak, vertel sy dat sy die behoefte verstaan vir mense om ‘n gemaklike stoel te hê.

“Om ‘n rolstoel te hê, gee aan ‘n mens onafhanklikheid en mobiliteit, en dit maak ook ‘n groot verskil in hulle lewens sowel as hulle gesin se lewe.”

Sy het sedertdien ‘n inkopiesak vol broodgespes bymekaar gemaak, maar benodig nog ongeveer 198 broodsakkies vol gespes.

“Ek wil graag volgende jaar iemand se Kersfees ophelder deur vir hulle ‘n rolstoel te skenk.”

Sy is vas oortuig dat as genoeg mense in Ermelo inspring en hulle broodgespes bymekaar maak, dat dit wel moontlik sal wees om teen volgende jaar genoeg in te samel.

“Om te herwin klink na baie werk vir meeste mense, maar met die projek kan mense die gespes herwin en dieselfde tyd ook ‘n behoeftige persoon help om ‘n rolstoel te kry.”

Me. Deysel het ‘n beroep op almal in die gemeenskap gedoen om haar te help met die projek en om haar droom om volgende jaar Kerstyd vir iemand ‘n rolstoel te kan oorhandig te bewaarheid.

Die gespes wat bymekaar gemaak word kan by Dougie’s Pets in Kerkstraat afgelaai word.

“Mense is soms skepties om ander finansieel te help, maar met die projek kan almal help sonder om geld te skenk.”

Sy beoog ook om indien sy genoeg ingesamel het, toestemming te verkry om persoonlik die rolstoel aan die behoeftige persoon te oorhandig.

Sy het vertel dat sy baie opgewonde is oor wat dié projek vir ander kan beteken en sien uit daarna om haar eerste rolstoel binnekort te kan oorhandig.

Me. Deysel glo dat as mens goed is vir ander mense dat dit goed met jou ook sal gaan.

Me. Michelle Deysel benodig die gemeenskap se hulp om genoeg broodgespes in te samel om in 2019 ‘n rolstoel aan ‘n behoeftige persoon te kan skenk. (Foto: Verskaf)
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version