Die Grimsdell-egpaar maak al vir 23 jaar lank musiek onder die vaandel van Grimmies Music

Hulle het kratte en kratte vol CDs en probeer op hoogte van die nuuste musiek bly

EVANDER – Mnr Graham Grimsdell is soos ‘n lopende musiek-ensiklopedie: neurie net ‘n paar woorde van ‘n liedjie en hy sal binne ‘n japtrap dié liedjie vir jou opspoor.

“Ek laat sommer die persoon wat ‘n versoek het, die liedjie vir Graham oor die foon verduidelik en dan kry ons die liedjie en sommer ook op die koop toe wie die kunstenaar is,” vertel sy vrou, me. Eileen Grimsdell.

Die Grimsdell-egpaar maak al vir 23 jaar lank musiek onder die vaandel van Grimmies Music, en vir die laaste dekade het die fotografie ook bygekom.

Mnr. Grimsdell is bedags ‘n adjudant-offisier vir die polisie by die Evander-landdroshof.

Hy was nog ‘n jong polisieman toe hy destyds sy plaatejoggie-talent met die plaaslike inwoners begin deel het.

“Destyds was ‘n klein mixer, ‘n draaitafel en ‘n mikrofoon bykans all wat benodig was, maar tegnologie het intussen baie verander en duurder geraak.”

Die Grimsdells is dus op hoogte van die nuutste tegnologie, rookmasjiene, beligting en allerlei gespesialiseerde klanktoerusting.

Hulle verskaf musiek, beligting en fotos vir troues, koperatiewe funksies, privaat-geleenthede, skooldanse en vele meer.

Hulle het die afgelope twee maande behoorlik bont gestaan met die baie skoolkonserte wat in die kontrei gehou is.

Mnr. Graham en me. Eileen Grimdell by die versameling van Ferrari-motors.

Die egpaar is al van skooljare af saam en is vandag nog steeds gaande oor mekaar.

Hulle glo die liefde vir Grimmies en om ander se spesiale oomblikke prentjiemooi te maak, bring hulle ook nader aan mekaar.

“Ons is albei mens-mense,” het me. Grimsdell verduidelik.

Hul oudste, Bianca (24) was skaars ‘n jaar-oud toe mnr. Grimsdell in die musiekbedryf betrokke geraak het.

“Ons was jonk en babas is duur,” het hy geskerts. Hulle het ook ‘n 17-jarige dogter, Rochelle.

Hoewel me. Grimsdell ook gereeld op haar eie musiek moet verskaf terwyl haar man elders werk, is fotografie vir haar die lekkerste.

Hierdie talent is destyds uit nood gebore toe hulle vir die polisie se visvangkompetisie op Sudwana musiek moes maak.

“Die amptelike fotograaf het nie opgedaag nie en Eileen moes met ‘n mik-en-druk-kameratjie inspring. “

Grimmies moes die laaste vyf jaar baie op ligte bestee, maar volgens mnr. Grimsdell is dit oor en oor die moete werd.

Sy reuse musiekkennis kom met jare se liefde vir musiek. Hulle het kratte en kratte vol CDs en probeer op hoogte van die nuuste musiek bly.

“Ek koop sowat agt CDs per maand,” het mnr Grimsdell vertel.

Hoewel die 80s se musiek mnr. Grimsdell se gunsteling genre is, en me. Grimsdell Afrikaanse musiek verkies, maak hulle seker dat daar iets vir almal is – van alle ouderdomme en kultuurgroepe.

‘n Besoek aan die egpaar se huis het ook ‘n ander geheim van dié egpaar verklap: Me. Grimsdell is versot op Lord of the Rings en mnr. Grimsdell versamel meer as net musiek.

In hul vermaakkamer is ‘n vertoonkas vol versamelaarsmotorjies van Ferrari se verskeie reekse wat hy nou al vir sowat 10 jaar lank getrou versamel.

“Ek is gek oor motorsport en Michael Schumacher.”

Mnr. Grimsdell besit die hele reeks van 165 Ferrari-motorjies in die Ferari-versameling, die hele reeks van 85 motortjies in die Motorsport-reeks en 90 van die 185 Formule 1-versameling.

Hy maak ook pocket bikes bymekaar.

En hy het ook sowat twee jaar bestee aan die bou van ‘n groter formule 1 Ferrari-renmotor wat nou die kernpunt van sy versameling maak.

“Dit is my stokperdjie, musiekmaak is my passie en polisieman is my werk,” het hy verduidelik.

Mnr. Graham en me. Eileen Grimsdell is Grimmies Musiek en fotografie. Hulle maak al vir bykans 23 jaar musiek.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version