Kriel-egpaar glo dis ‘n wonderwerk dat WH (17) leef na selfmoord-poging

Die paramedikuste het gesê hy het twee persent kans om Mediclinic Highveld op Trichardt lewend te haal.

TRICHARDT – Mnr. Johan en me. Anze Liebenberg het ‘n kompetisie gereël om geld in te samel vir WH Nel (17).

Die Hoëveld Hengelklub by Trichardtsfonteindam het hul fasiliteite beskikbaar gestel.

WH se ma, me. Annelie Nel, glo die feit dat haar tienerseun nog leef, is ’n wonderwerk.

Sy het Vrydagaand, 4 Mei, op WH afgekom met ’n skietwond in sy kop in die gesin se huis op Kriel.

WH het nog gelewe en hy is hospitaal toe gehaas.

Die paramedikuste het gesê hy het twee persent kans om Mediclinic Highveld op Trichardt lewend te haal.

WH het dit egter gemaak, maar moes met ’n helikopter oorgeplaas word na ’n groter hospitaal in Johannesburg.

Daar was egter nie ’n helikopter beskikbaar nie en hy moes wag vir ’n intensiewe sorg-ambulans vanaf Middelburg.

Hy is oorgeplaas na die Milpark Hospitaal in Johannesburg en dokters het gesê hy sou nie die operasie oorleef nie.

WH se familie en vriende het na die nuus opgedaag om totsiens te sê.

“Ons moes later daardie dag dokumente teken om toestemming te gee dat WH geopereer kon word.” het me. Nel gesê.

“Ek het geweet my seun gaan nie doodgaan nie, ek het Skrif gekry dat hy gaan leef.”

“Die dokters het ons op die vyfde dag na sy ongeluk ingeroep en gesê hy gaan nie die skietvoorval oorleef nie, maar teen dag 10 het hy self teen die asemhalingsmasjien waaraan hy gekoppel was, begin asemhaal.”

Mediese personeel het verwonderd gestaan.

Na 10 weke in die intensiewe sorg-eenheid van die hospitaal, is hy na ‘n intensiewe sorg rehabilitasie-sentrum in Johannesburg oorgeplaas waar hy agt weke was.

Hy is huis toe vir bykans drie weke, maar het longontsteking opgedoen en is weer terug hospitaal toe.

WH is weer opgeneem in Mediclinic Highveld vir ’n week en was toe weer vir drie weke huis toe voordat hy vloeistof op sy longe gekry het.

WH is die afgelope vyf weke in die Kosmos Hospitaal op eMalahleni (Witbank), maar sy ouers sê hy toon goeie vordering en volg hulle met sy oë as hulle in die hospitaalkamer rondbeweeg of met hom praat.

Die dokter het gesê hy gaan moontlik die week ontslaan word.

Hy kan nog nie self eet, praat of loop nie, hy kry buisvoeding en het ’n tragea in sy keel, maar sy gesin is hoopvol dat hy ten volle gaan herstel.

“Die man wat sy x-strale geneem het, het ons geskakel en gesê vandat hy WH gesien het en sy verslae gelees het, het hy net gevoel hy moet vir hom bid,” het me. Nel gesê.

Die Nel-gesin het reeds twee versorgers in diens geneem in die tyd wat WH by die huis was en hy gaan ook arbeidsterapie, fisioterapie en spraakterapie moet kry as hy ontslaan word.

Die mediese fonds dek nie al dié uitgawes nie en die gesin het geld nodig om vir WH die beste moontlike versorging te gee.

Sy ouers werk albei, me. Nel werk by die poskantoor op Kriel en mnr. Max Nel is die hoof van Laerskool Krielpark.

WH se broer, Mauritz, vat dit ook swaar dat sy ouboet in die hospitaal is.

Me. Nel wil mense bewus maak van die druk wat tieners ondervind.

“Hy het vier dae voor die voorval nog iemand wat wou selfmoord pleeg uit dit uit gepraat en ons het niks vermoed nie,” het me. Nel gesê.

“Dit was vir ons ’n groot skok. Ouers dink dit sal nie met hulle kinders gebeur nie.

“Ouers moet mooi kyk, ons het gedink ons kind is ‘fine’ want hy het nooit gewys dat iets hom pla nie.”

WH was ’n uitblinker op die sportveld en op akademiese gebied.

Hy sou vanjaar vie die derde keer deel wees van die provinsiale hengelspan wat aan die Suid-Afrikaanse hengelkampionskap gaan deelneem.

Hy is al verskeie kere aangewys as Gholfspeler van die Jaar en hy sou vanjaar vir die Puma-rugbyspan uitdraf het.

Me. Nel het die gemeenskap wat die gesin ondersteun en vir hulle bid, bedank.

Die gesin is in die proses om ‘n trust te stig wat deur drie trustees, wat nie deel van die gesin is nie, bestuur gaan word.

As jy wil help, skakel me. Annelie Nel by 082 512 2896.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version