Lizette Neviling (11) is al vier weke in hospitaal na terugslag

Ouma en oupa bid dat sy binnekort vanuit hospitaal ontslaan sal word

BETHAL – Lizette Neviling (11) kan van die begin van vanjaar af nie meer skoolgaan nie omdat sy te siek is.

Sy is met sistiese fibrose gebore en is die afgelope vier weke in die hospitaal nadat sy ‘n terugslag gehad het en erg begin hoes en koors gehad het.

Sy het ook infeksie gekry in die poort wat in haar liggaam ingeplant is.

Dié poort is nou uitgehaal omdat dit besmet is.

Haar ouma en oupa bid dat sy binnekort sal kan huis toe gaan.

Lizette Neviling ly aan sistiese fibrose en is permanent aan ’n suurstofmasjien gekoppel.

“Haar imuunstelsel is baie swak weens die siekte en sy tel maklik kieme op,” het haar ouma, me. Johanna Lombard gesê.

As Lizette gewig optel, is dit ‘n prestasie vir haar en haar gesin omdat sy so maer is en sukkel om te eet.

Sy is permanent aan ‘n suurstofmasjien gekoppel en is tans ook aan ‘n voedingsmasjien gekoppel.

“As sy net een dag nie eet nie, verloor sy 100g. Sy het byna 20kg geweeg, maar ons gaan nie weer vir haar ‘n poort laat insit nie, want dit maak haar siek.

“Ons gaan eerder deur die dag deurlopend vir haar drips in haar arm gee om haar te voed.

“Ek weet dit is seer vir haar, maar dit gaan haar nie so siek maak soos die poort nie.”

Lizette Neviling (11) by haar oupa, mnr. Chris Lombard.

Lizette is onlangs ook as ‘n diabeet gediagnoseer.

Sy het graag modelwerk gedoen toe sy nie so swak was nie.

Sy het vanjaar tweede geëindig by die Swartgoudfees op Kriel toe sy met haar suurstofmasjien en al op die loopplank verskyn het.

Lizette was toe sy klein was, vir twee minute dood, maar dokters kon haar weer bykry.

Haar ma bly voltyds tuis om haar te versorg.

Volgens me. Lombard is daar net vyf hospitale in Suid-Afrika wat gespesialiseerde personeel het wat sistiese fibrose kan behandel.

“Ons wou al trek, maar ons kan nie weens finansies. Die gasse hier is nie goed vir Zetjie se longe nie,” het me. Lombard gesê.

Lizette Neviling het haar 11de verjaarsdag in die hospitaal deurgebring. Sy is al amper vier weke in die hospitaal.

As die krag op Bethal afgaan, is dit ‘n groot probleem vir Lizette wat permanent aan ‘n asemhalingsmasjien gekoppel is.

“Dan moet ons rondjaag en vir Lizette suurstof soek.

“Ek vra gewoonlik op Facebook om hulp en of daar mense is wat vir ons ‘n kragopwekker kan leen as ons nie suurstof kry nie.”

Lizette se pa, mnr. Andries Neviling, is ook siek en het nierprobleme.

Hy werk, maar is pal in pyn.

“Hy is 10 jaar gelede met ‘n mes gesteek en die lem is deur sy maag en lewer en ek dink dit is hoekom hy steeds pyn het,” het me. Lombard gesê.

Mnr. Neveling sukkel ook om te eet weens die pyn.

Lizette Neviling by haar oupa, mnr. Chris Lombard.

Dokters vermoed hy het nierstene en stene in sy pankreas en hy gaan moontlik binnekort geopereer moet word om dit te laat verwyder.

Lizette se gesin wil graag vir haar ‘n masjien koop wat met die voeding sal help.

Dié masjien kos sowat R19 000.

Me. Lombard het die egpaar van Evander wat gereeld vir Lizette kruideniersware aflewer, asook almal in die gemeenskap wat hulle ondersteun, bedank.

Vir meer inligting, of as jy wil help, skakel me. Lombard by 064 908 8552.

Lizette Neviling wys die poort wat nou uitgehaal is omdat dit besmet was en haar siek gemaak het.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version