Polisie se deskundige getuig oor seun se gedrag nadat stiefoupa glo met hom lol

Die seun is verlede jaar amptelik met gedragsversteurings gediagnoseer

SECUNDA – ‘n Forensiese maatskaplike werker het in ‘n lywige verslag aan die Secunda Streekshof wat met seksuele misdrywe werk, verlede week verduidelik hoekom ‘n tienerseun wat na bewering gemolesteer is, erge gedragsafwyking toon.

Kapt Lizelle Sass werk by die polisie in Nelspruit.

Sy het Donderdag en Vrydag, 8 en 9 November, in die saak teen die seun se stiefoupa haar verslag in Engels voorgelees, wat vir die beskuldigde in Afrikaans vertaal moes word.

Die saak sloer al etlike jare en die beweerde seksdade wat die stiefoupa na bewering met die seun gepleeg het toe hy sowat ses jaar oud was, het destyds in Secunda begin.

Die seun se ouma aan moederskant en haar man het intussen na Limpopo verhuis en het die seun en sy jonger tweeling sussies ook op daai stadium saam met die egpaar verhuis.

Die kinders se ma moes weens werksomstandighede nog in Secunda agterbly.

Die seun het toe reeds weens slegte gedrag by die skool probleme opgetel.

Sy ma is later weer getroud en die seun het toe aan sy stiefpa vertel wat met hom gebeur het. Hy was op daardie stadium sowat 11 jaar oud. Hy is nou sowat 15 jaar oud.

Die stiefpa het vroeër vanjaar in die hof getuig oor die briewe wat die seun aan hom geskryf het, en die aantuigings wat die kind gemaak het.

Hy het ook getuig oor die seun se gedragversteurings wat so erg geraak het, dat hy uit verskeie skole geskors is, en selfs sy sussies probeer versmoor het.

Die seun is tans in Boys Town.

Kapt Sass het Donderdag in haar verslag verduidelik dat kinders op die ouderdom van ses jaar geen abstrakte-denke het, soos om datums en tye te onthou nie, en wanneer daar boonop traumatise gebeure plaasvind, is hulle geneig om dit te fragmenteer of en om dele heeltemal uit te blot.

“Mense is geneig om te sê dat ‘n kind stories van seksuele misbruik opmaak, maar kinders op daardie ouderdom kan net ‘n fantasie opmaak gegrond op dit wat hulle reeds ervaar het.

“In kinders se fantasie-wêreld is hulle gewoonlik in ‘n posisie van mag, en nie as ‘n slagoffer van seksuele mollestering nie.

Die seun is verlede jaar amptelik met gedragsversteurings gediagnoseer.

Volgens kapt Sass het dit wat die stiefoupa, ‘n belangrike persoon in die seun se lewe, na bewering aan die kind gedoen het, die seun gepla, maar kan die seun nie verduidelik hoekom nie.

“Sulke kinders leer om hulself te blameer en kwaad te wees vir die kind binne-in.”

Sy het gesê die seun se gedragsversteurings sluit in om ander kinders te boelie, seksuele teistering, leuens, diefstal en woede-uitbarstings.

Die saak is uitgestel tot 23 en 24 Januarie.

Lees ook:

Stiefoupa verskyn in Secunda-streekshof vir seksuele aanranding

Exit mobile version