Gemors by Ermelo stortingsterrein duur voort

’n Ander inwoner van Ermelo is van mening dat indien die munisipaliteit meer werk insit om herwinning aan te moedig die toestand van die stortingsterrein nie ’n alledaagse probleem sal word nie.

Ontstoke inwoners het vir die soveelste keer die Hoëvelder genader oor die toestand van die stortingsterrein aan die noorde van Ermelo.

Die eerste klagtes oor die terrein het vroeg in Januarie vanjaar reeds ingestroom, nadat die munisipaliteit hulle pligte om die terrein gedurende die Kersseisoen in stand te hou, versuim het.

Volgens ’n inwoner wat gereeld van die pad gebruik maak, raak die pogings van instandhouding belaglik en vrees hy vir sy familie wat die pad alleen moet aanpak.

Hy moet weekliks werkers opdrag gee om die gemors wat tot by sy woning waai, skoon te maak om te verhoed dat sy diere nie vrek van die gemors nie.

Inwoners vertel dat hulle sowat ’n week gelede nie die stortingterrein kon binnegaan om vullis af te laai nie en noodgedwonge was om hulle vullis in die veld langs die terrein af te laai.

Daar is ook klagtes ontvang oor die mense wat voertuie bestorm en op bewegende voertuie spring om die vullis af te laai.

“Die stortingsterrein is ’n broeiplek vir kieme en siektes en hou ’n gesondheidsrisiko vir inwoners in wat vullis daar moet stort, maar ook vir dié wat daar uit hul eie wil werk.” het ’n inwoner wat anoniem wil bly, gesê.

“Die munisipaliteit stel die norm vir inwoners dat daar geen probleem is om vullis te stort net waar hulle wil.” Hy meen dit is die sondebok vir die talle onwettige stortingsterreine wat oral om die dorp opduik.

Inwoners wat naby die stortingsterrein woon, het aan die Hoëvelder vertel dat hulle die probleem al voorheen by die munisipaliteit aangemeld het. Hul het genoem dat die plastieksakke wat in die vliegveld beland, ’n groot risiko inhou vir enige vliegtuig wat van die aanloopbaan gebruik maak.

Tydens die Hoëvelder se besoek aan die stortingsterrein, is ons begroet deur varke wat in die vullis rondsnuffel op soek na iets om te eet.

Die reuk wat in die lug hang, is ondraaglik en ’n duidelike teken van geen instandhouding van enige aard nie.

Verder in die pad af kan hope vullis oral om die stortingsterrein gesien word en hier en daar is daar mense wat deur die vullis sif op soek na enige iets wat hulle vir eie gewin kan gebruik. ’n Trop beeste loop in die veld tussen die rommel en een smul aan ’n plastieksak.

’n Ander inwoner van Ermelo is van mening dat indien die munisipaliteit meer werk insit om herwinning aan te moedig, die toestand van die stortingsterrein nie ’n alledaagse probleem sal word nie.

“As elke gesin net sy eie huisrommel herwin en die tuinrommel terugwerk in hulle tuine of komposhope begin, sal die gemors nie op die stortingsterrein opeindig nie,” het die inwoner gesê.

Die Hoëvelder is Maandagoggend, 12 November in kennis gestel dat daar werkers by die terrein is wat begin het met die opruimproses.

Een van die inwoners het sy kommer uitgespreek oor wat dit die belastingbetalers kos om die ekstra masjiene en werkers aan te stel om van die gemors ontslae te raak.

Verlede jaar is daar ’n berig deur AfriForum vrygestel oor die vereistes waaraan ’n vullisterrein moet voldoen volgens die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (Wet no. 59 van 2008).

Van die vereistes sluit in toegangsbeheer, omheining, brandregulasies en onwettige storting.

Daar word reeds vir die afgelope paar weke navrae gedoen by die Msukaligwa Munisipaliteit oor die toestand van die terreine asook wie verantwoordelik is vir die instandhouding, maar geen antwoord is teen druktyd ontvang nie.

Exit mobile version