Local newsNews

Bekende dokter sterf

Gesin sal hom onthou as iemand wat geleef het vir sy kinders

BETHAL – Dr. Nicus Botes (67) wat tot 1980 op Bethal gewoon het en toe na Middelburg verhuis het, is Maandagoggend, 15 Oktober in sy slaap dood.

Hy het vermoedelik ’n hartaanval gehad.

Dr. Botes het in Pretoria grootgeword en na skool medies gaan studeer voordat hy na Bethal verhuis het waar hy vir 13 jaar gewoon het en as dokter gepraktiseer het.

Hy, sy vrou Susan en hul kinders het op Middelburg gewoon totdat hy twee jaar gelede afgetree het. Die egpaar het hierna na ‘n gholflandgoed sowat 20km vanaf Mooirivier verhuis.

Dr. Botes was op Middelburg een van die vennote by die spreekkamers, Dr. Van Rensburg en Vennote.

Hy was die klubkaptein van Bethal Gholfklub, asook van Middelburg Buiteklub en het op die beheerliggaam van Hoërskool Middelburg gedien.

Een van die sale by die buiteklub op Middelburg is na hom vernoem en hy het ’n groot aandeel daarin gehad om die geriewe op te gradeer.

Hy het die Legendes-aand op Middelburg aangebied waar bekende oud-Springbokke soos Bakkies Botha en Danie Gerber, asook die bekende dr. Henning Gericke, teenwoordig was.

Sy skoonseun, mnr. Jakes van der Merwe, het gesê die familie sal hom onthou as iemand wat altyd bereid was om te help. Dr. Botes het vir sy vrou en kinders geleef.

Een van sy beste vriende, mnr. Hennie van der Spuy, het gesê dr. Botes was ’n groot gees onder hulle en die gom wat al die vriende bymekaar gehou het.

Volgens mnr. Van der Spuy het dr. Botes ‘n paar maande gelede ook ’n hartaanval gehad, maar hy was ‘ok’ daarna.

“Hy was so fiks en het twee naweke gelede nog saam met ons gholf gespeel en altyd sy eie gholfsak gedra,” het mnr. Van der Spuy gesê.

Dr. Botes word oorleef deur sy vrou, me. Susan Botes, twee dogters, me. Suria van der Merwe en me. Niculie Groenewald, twee skoonseuns, mnre. Jakes van der Merwe en Green Groenewald en vyf kleinkinders.

Teen druktyd was daar nog nie begrafnisreëlings getref nie.

Mnr. Van der Merwe het op die dag van dr. Botes se afsterwe die volgende boodskap op Facebook geplaas:

Nicus Botes: 15 April 1951 – 15 Oktober 2018

Stil, broers, daar gaan ’n man verby, hy groet, en dis verlaas.

Daar’s nog maar een soos hy; bekyk hom goed.

Related Articles

Back to top button