Local newsNews

Pa’s bederf hul prinsesse by Kansa-geleentheid

Reinette Gibson praat by spesiale geleentheid.

SECUNDA – Pa’s en hul dogters is bederf by Kansa se Pappa- en sy Prinses-oggend wat by die Bosveld Lapa Restaurant aangebied is.

Me. Reinette Gibson, wat die Lady Gracious-titel in 2015 gewen het en ’n motiveringsspreker is, het die gehoor toegespreek en die pa’s en dogters het ’n ete geniet.

Me. Natasha Philpott van Kansa het die verrigtinge geopen en me. Gibson het gesê dit is belangrik dat pa’s tyd met hul dogters bestee.

Me. Natasha Philpott en haar pa, mnr. Tinus Dannhauser by die Pappa- en sy Prinses-oggend.

“Gee aandag aan jou dogter en laat haar op jou skoot sit totdat sy aandui jy is laf om haar nog op jou skoot te laat sit,” het me. Gibson gesê.

“As jy nie genoeg aandag gee nie, gaan jou dogter dit op ander plekke soek.

“Komplimenteer haar en sê vir haar sy ruik lekker of lyk mooi, maar sy moet ook weet ’n mooi gesig en lyf is nie alles nie.

“Sê vir haar jy is trots op haar en op haar pogings en bederf haar.

“Gee soms vir haar blomme, neem haar vir ete en neem haar saam met jou rugby toe.

“Dit is ons verantwoordelikheid as ouers om ons kinders te vorm.

“Die pa bring die identiteit van die kind want hy is volgens die Bybel die priester, profeet en koning van die huis.”

Mnr. Edward Philpott en sy dogtertjie, Elrike, by Kansa se Pappa- en sy Prinses-oggend.

Volgens me. Gibson is dit belangrik hoe mans hul vroue behandel omdat hul dogters daarna kyk en sien hoe mans veronderstel is om vroue te behandel.

“Pa’s moet hul vroue met deernis en respek behandel.”

Me. Gibson is al 11 jaar in die onderwys en bediening en het gesê sy het al verskeie kere gesien hoe vroue lewensmaats kies wat hulle seermaak of mishandel omdat hul pa’s nie genoeg tyd saam met hulle bestee het nie.

“’n Pa vorm ook die hart van God en hoe jou dogtertjie jou as pa sien, is ook hoe sy God sien.

“Maak tyd vir jou kinders, tyd is al wat ons het op aarde.

“’n Pa is sy seun se eerste held en sy dogter se eerste liefde,” het me. Gibson afgesluit.

Me. Philpott se dogtertjie, Elrike, het ’n gedig van ’n dogtertjie aan haar pa voorgelees en die pa’s het krone op hul dogters se koppe gesit en hulle soos ware prinsesse laat voel.

Me. Natasha Philpott van Kansa open die Pappa- en sy Prinses-oggend Saterdag, 1 September by die Bosveld Lapa Restaurant.
Me. Reinette Gibson spreek die gehoor toe by Kansa se Pappa- en sy Prinses-oggend.

Related Articles

Back to top button