Tommy die worshond wat vir dae weg was, is by die pampoenhuisies op Secunda gevind

‘Ek was baie geskok toe ek uitklim en in iets getrap het wat vir my soos die pels van ’n hond gelyk het’

SECUNDA – Tommy die worshond is tuis ná hy vir sowat 10 dae soek was.

Waar hy was en wat met hom gebeur het, bly ’n raaisel, hoewel dié bejaarde dier nie meer goed lyk nie. Sy ontberinge het duidelik ’n tol geëis.

Tommy is me. Liesl Posthumus se skoothondjie en is al ouer as 15 jaar, maar het nog nooit by sy ounooi se erf uitgeglip nie.

“Juis daarom het ek dit so vreemd gevind dat hy op 10 Augustus net skielik verdwyn het,” het me. Posthumus vertel.

Rasend van bekommernis het sy en haar dogter, Lisa, die dorp platgery op soek na hul vierpoot-gesinslid.

“Ek het onthou dat die polisie jare gelede op gesteelde honde by die ‘pampoenhuisies’ op Secunda afgekom het en ek besluit om die kans te waag en te gaan hoor of Tommy moontlik daar is,” het Lisa gesê.

Die “pampoenhuisies” is al vir jare ’n duistere plek op Secunda wat liefs vermy moet word, maar blyk glo baie bekend onder inwoners te wees wat al na ure ’n bottel drank wou bekom het.

Gerugte van dwelms en ander misdrywe is ook al voorheen oor dié klein kampong naby Trichardt se treinspore versprei. Die “pampoenhuisies” is dus een van daardie plekke waar die reputasie die naam vooruitloop en soms dalk in oordrewe vorm.

Lisa se eerste besoek het niks opgelewer nie, maar sy het ten minste telefoonnommers uitgeruil en ’n belofte gekry dat daar vir die hondjie gesoek sal word.Twee dae later is mnr. Juan Posthumus saam met sy vrou en dogter na die “pampoenhuisies” om te gaan kyk of die hond wat wel gevind is, Tommy is.

“Ek was baie geskok toe ek uitklim en in iets getrap het wat vir my soos die pels van ’n hond gelyk het,” het me. Liesl Posthumus vertel.

Dié hondjie wat gevind is, was nie Tommy nie en die Posthumus is met leë hande en swaar harte daar weg. Hulle het wel ’n hondjie wat soos ’n Yorkshire-terriër gelyk het, gesien.

“Ek het weer op 20 Augustus van die man gehoor en het op my eie daarheen gegaan,” het Lisa gesê. “So wraggies, daar was Tommy, maar ek het gesien hy was erg verskrik en uitgeteer.”

Tommy het ’n paar dae na sy tuiskoms steeds moeilik geloop en baie bang voorgekom. Die blink in sy ogies was weg en hy het nie eers meer geblaf nie.

“Ons gee vir hom aanvullings en hy sit darem bietjie lyf aan, maar hy is nou baie stiller. Hy het sommer oornag oud geword,” het me. Posthumus vertel.

Die koerant het Dinsdag, 28 Augustus saam met die Hoëveldrif DBV ’n besoek by die “pampoenhuisies” afgelê, met die voorwendsel dat daar na die verlore Yorkshire-terriër gesoek word. Daar was egter geen honde in die omtrek nie.

Selfs toe daar in die nabye veld en om die huise in die omtrek ondersoek ingestel is, is geen hond gehoor of gewaar nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version