Local newsNews

Ds. Gerrit Theron van Chrissiesmeer besoek Boesman 40 jaar nadat hy ’n kerk daar gestig het

“Ons het suigstokkie-lekkers aan die mense uitgedeel en terwyl van die oumas onder ’n boom sit, het ons foto’s geneem van hulle. Hulle kon nie glo dat dit hulle is nie.” Dit was die eerste keer wat die mense gesien het hoe hulle lyk

Ds. Gerrit Theron van Chrissiesmeer het in 1977 sy hart verloor op die Boesmans in Wes Caprivi waar hy ook vir die gemeenskap ‘n kerk gestig het.

Hy het na 40 jaar weer die geleentheid gehad om die plek te besoek.

In die tyd dat hy daar begin het, was die Wes Caprivi ‘n natuurreservaat met geen mense wat daar gewoon het nie.

Die Boesmans het tydens die Angola-Boereoorlog gevlug en deel van die militêre basis geword en saam met die ander soldate oorlog gemaak.

Ds. Theron het vertel dat hy ‘n kapelaan op die grens was en het die behoefte gesien om die Boesmans van God te vertel.

Hy het ‘n kerk vir die groep Boesmans opgerig wat met sy vertrek in 1980 bykans 400 lede sterk gestaan het.

Ds. Gerrit Theron sit saam met van die ander sendelinge in Caprivi en luister na die koor voordat hulle met kerk begin. (Foto verskaf)

Hy het tydens ‘n geselligheid in sy pastorie in Chrissiesmeer te hore gekom van uitreike wat jaarliks na die Caprivi gaan om sendingwerk onder die Boesmans te doen.

Dié uitreik word deur Lynnwood Kerk in Pretoria behartig.

Ds. Theron het besef dat dit in die einste gebied is waar hy bykans 40 jaar gelede ‘n kerk gestig het. Die groep het op 21 Junie saam met die Lynnwood Kerk die 1 500km toer na die Caprivi vir die jaarlikse uitreik afgeskop.

Met hul aankoms het ds. Theron omgemerk dat die gemeenskap gegroei het tot bykans 4 000 mense en wat die groep sendelinge ook opgeval het, was dat die mense heeldag in die son sit en nie veel doen nie, want daar is geen werk of inkomste vir hulle nie.

Ds. Theron het gesê dat die Namibiese regering vir die Boesmans op ‘n paar stragetiese plekke vir water geboor het en een keer ‘n maand meel aan hulle voorsien. Die res van die tyd leef hulle van die veld.

Die magdom kinders by elke basis waar hulle was, het meestal slegs een stel klere en speel die heeldag.

Dié vroue was verbaas om te sien hoe hulle lyk nadat hulle ‘n foto van hulself gesien het. (Foto verskaf)

Daar is skole vir die kinders gebou, maar na skool is daar geen geleenthede vir die kinders nie.

“Ons het suigstokkielekkers uitgedeel en terwyl van die oumas onder ‘n boom gesit het, het ons foto’s van hulle geneem. Hulle kon nie glo dat dit hulle in die foto’s is nie.”

Dit was die eerste keer dat die vroue gesien het hoe hulle lyk.

Die groep sendelinge het die Jesus-film aan die Boesmans gewys en hulle toegerus om selfs na die groep se vertrek mekaar steeds te kan bedien en vir mekaar te bid.

Ds. Theron het besluit om weer by die Boesmans betrokke te raak.

Hy en sy vrou wil die Caprivi een maal ‘n kwartaal besoek en beoog om in die nabye toekoms drie kerke, wat ook as sentrums vir die gemeenskappe kan dien, op te rig.

Daarby wil hulle die ouers leer hoe om groentetuine te maak en te onderhou en wil veral fokus op die ontwikkeling van die kinders.

‘n Ander doelwit is om betrokke te raak in die lewens van die jong meisies en hulle wil die meisies leer hoe ‘n vrou na haarself moet kyk.

Ds. Theron het vertel dat mense baie by die bBesmans kan leer, want hulle respekteer mekaar se eiendom en neem niks wat aan ander behoort nie.

Die groep sendelinge het gesê dat hulle tydens die uitreik die Here se getrouheid en betrokkenheid weer opnuut ondervind het.

“Dit was vir ons waarlik ‘n blymoedige en dankbare belewenis om terug te kon gaan en in dieselfde voetspore as 40 jaar gelede te kon stap.” het ds. Theron gesê.

Die egpaar is tans besig om Bybels, inkleurpotlode, kinderboeke, klere vir kinders en volwassenes, krale asook groentesade by mekaar te maak vir hul volgende uitreik na die Caprivi wat in Oktober plaasvind.

Ds. Gerrit Theron getuig tydens een van die kerkbyeenkomste wat tydens die uitreik gereël is. (Foto verskaf)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button