Trichardt-pastoor skryf derde boek klaar

PPK Belzalel-gemeente op Trichardt bied ook Bybelskool aan.

Past. Paul Cloete, leraar van die Pinkster Protestante Kerk (PPK) Betzalel-gemeente op Trichardt, se derde boek is tans by ’n taalversorger en sal binnekort op die winkelrakke en op die internet beskikbaar wees.

Sy eerste boek, U Verhouding met God, is in Augustus 2015 uitgereik en is ook in Engels beskikbaar.

Voordat hy die boek bekendgestel het, was daar reeds meer as 190 bestellings vir die Afrikaanse weergawe en meer as 200 vir die Engelse een.

Hy het meer as ’n duisend boeke van sy eerste boek verkoop.

Past. Cloete het dié boek binne vier maande geskryf en het gesê die Heilige Gees het hom geïnspireer om die boeke te skryf.

Hy werk voltyds as opleidingsbeampte op ’n myn en het ’n paar jaar gelede in sy pa, wat ook ’n PPK-pastoor en ’n evangelis was, se voetspore gevolg en besluit om teologie te studeer.

Hy het deeltyds gestudeer terwyl hy voltyds gewerk het.

Secunda pastoor sluit Survivor SA af op hoë noot

Past. Cloete het sy diploma in teologie in 2016 voltooi en is van vanjaar af by die PPK Beltzalel-gemeente.

Sy tweede boek, Vier Vriende onderdanig aan God, is nou te koop en sy derde boek, Die Almag van die Bonatuurlike, sal oor drie weke beskikbaar wees.

Vier Vriende onderdanig aan God vertel die verhaal van Daniël en sy drie vriende in ’n meer hedendaagse tyd.

“Daar is ’n bietjie humor in die boek, asook ’n oorlog,” het past. Cloete gesê. Daar is baie geesvervulde tonele in die boek.”

Past. Cloete het baie navorsing gedoen voordat hy dié boek geskryf het en ken selfs die poortwagte se name.

Sy derde boek gaan oor die geestelike lewe en hoe die duiwel mense aanval.

Hy het reeds aan sy vierde boek, Die Pad Hemel toe, begin skryf.

Past. Cloete kan ook klavier, kitaar, mondfluitjie, trekklavier en konsertina speel en het al verskeie liedjies geskryf.

Hy het sy vrou, me. Mareina Cloete, in sy pa se kerk, die PPK op Volksrust, ontmoet en sy werk het hom en sy gesin al na verskeie dorpe geneem voordat hulle sowat vyf jaar gelede na Secunda verhuis het.

Past. Cloete het mense genooi om sy gemeente op Trichardt te besoek. Hul dienste is elke Sondag om 9vm.

Vir meer inligting, skakel past. Cloete by 079 767 7596.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version