Kwadrupleeg van Charl Cilliers en sy tante laat die Here hulle na die Kalahari lei

“Gehoorsaamheid is beter as offerhandes”

CHARL CILLIERS – Rikus moet woestyn toe. Die Here het so gesê.

Mnr. Rikus Kemp (32) maak daarom nou gereed vir hul groot trek na Noenieput in die Kalahari op Saterdag 28 Julie waar hy glo, sy liggaam, siel en gees heel gaan word.

Sy ma, me. Mabel Heüer, en haar broer en dié se vrou, mnr. Sampi en me. Anneli Ackerman, gaan saam tot by die nedersetting.

Mnr. Kemp verwys na die Ackermans as sy geestelike ouers en noem hulle daarom ook Pa Sampi en Ma Anneli, die enigste persoon wat saam met hom gaan agterbly in Noenieput.

“Ma Anneli het al verlede jaar die profetiese woord gekry dat ek vir nege maande in die woestyn moet gaan woon,” het mnr. Kemp, ’n kwadrupleeg, vertel. Daar is telkemale bevestiging vir dié woord gekry.

Me. Ackerman het ook ’n naam gekry: Barrie Burger.

“Op daardie stadium het ek nie ’n idee gehad wie dit is nie. Rikus het hom gaan naslaan en uitgevind dit is die prediker in die Kalahari wat met perde werk en oor wie Reghardt van der Berg ’n rolprent, Tornado, gemaak het” het sy vertel.

Dit is op ware gebeure gebasseer oor Barrie, ’n gebroke seun, wat ’n probleem-perd versorg en hanteer. Mens en dier word in die storie ingrypend verander.

“Oom Barrie, wat ook ’n profeet is, het my en Rikus lank en deeglik uitgevra oor dit wat ek gekry het en hy het ook self vir baie lank daaroor gaan bid en die Here se aangesig gesoek,” het me. Ackerman vertel.

Intussen het die Ackermans een aand by ’n selgroep uitgevind dat die einste perd destyds aan ’n Vrystaatse egpaar wat nou op Secunda woon en baie goeie vriende is, behoort het.

“Hulle het destyds oorweeg om Tornado van kant te maak omdat hy nie opleibaar was nie, maar dis weer ’n heel ander storie,” het mnr. Ackerman vertel.

Mnr. Kemp het in 2005 as matrikulant aan die Bakpan Tegniese Skool sy nek in ’n rugbywedstryd teen Heidelberg gebreek.

Hoewel hy daardie dag aan sy ma gesê het dat as hy weer kan loop, hy vir die Here sou werk, was hy van sy nek af verlam.

Hy het effense beweging in sy regterarm.

“Dokters het destyds gesê ek sou vir altyd aan asemhalingsmasjiene gekoppel wees, maar dit opsigself was ’n wonderwerk,” het mnr. Kemp verduidelik.

Ten spyte van sy toestand, het mnr. Kemp steeds wildbestuur studeer en ontwerp hy dinge wat die lewe vir hom makliker kan maak om steeds sy stokperdjies te beoefen, soos ’n spesiale visstokstaander en ’n geweerstut vir jag.

“Maar nou ja, ek werk uiteraard nie – behalwe op almal se senuwees,” het hy geskerts.

Barrie Burger se toestemming dat mnr. Kemp Noenieput toe kan gaan, het eers maande later gekom.

“Rikus mag tot dusver vir nege dae by die perde in die ring werk en in die stalle woon. Sy ma, wat ook sy versorger is, gaan hom net aflaai en dan gaan sy en Sampi weer huiswaarts keer,” het me. Ackerman verduidelik.

Sy het sowat twee weke gelede woord gekry dat sy ook moet agterbly vir werk onder gemeenskappe in die Kalahari.

Sy weet die mense daar is baie arm.

“Daar is sowat 30 gesinne en ek gaan by een gesin aan huis bly.

“Die Here het gesê ek moet kos en klere saamneem, en veral sanitêre doekies en toiletware vir die vroue.

“Ek weet nie hoe lank God my daar wil hou nie, maar ek gaan nie saam met Rikus wees nie. Ons het elkeen ons eie woestynpad om te stap.”

Me. Ackerman het ook ’n visioen gehad van ’n voertuig wat sy glo die Here vir die ekskursie wil voorsien, maar sy weet nog nie wanneer dit gaan gebeur nie.

“Ons weet nie wat om te verwag nie, maar ons stap in die geloof. Ek het besef gehoorsaamheid is beter as offerhandes.”

Enigeen wat ’n bydrae wil maak, kan dit by die Ridge Times se kantore aflaai.

Die Ackermans moet dit teen Vrydag oplaai. Hulle kan ook geskakel word by 079 899 7647.

Exit mobile version