Local newsNews

Secunda Downsindroom-seuntjie verskaf ouers net vreugde

Egpaar glo Downsindroom-kind is niks om oor skaam te wees nie.

TRICHARDT – Vir mnr. Jacques en me. Chantal Naudé was die geboorte van hul Downsindroom-seuntjie, Shaun, ’n wonderwerk.

Dié egpaar het immers 10 jaar vir Shaun gewag en me. Naudé het in dié tyd verskeie miskrame gehad.

Sy het gesukkel om swanger te raak en die egpaar het besluit om vir vrugbaarheidsbehandeling te gaan, waarna me Naudé swanger geraak het met Shaun wat nou byna twee jaar oud is.

Hy is op 8 November 2016 gebore en moes vir vier weke in die intensiewe eenheid van die hospitaal bly omdat hy probleme met sy hart en longe gehad het.

Dokters het nie tydens die swangerskap agtergekom dat Shaun ’n Downsindroom is nie.

“Vir baie mense is dit ’n skande of hulle is skaam om ’n Downsindroom-kind te hê, maar nie ons nie,” het mnr. Naudé gesê.

“Hy is ons kind en ’n geskenk waarvoor ons al só lank gewag het en is lief vir hom net soos hy is.”

Die egpaar het kort na Shaun se geboorte ’n ondersteuningsgroep vir gesinne van Downsindroom-kinders begin.

Die groep se naam is Downsyndrome Support Group for the greater Secunda area.”

Die idee vir dié groep is om maandeliks uitstappies te reël waar gesinne met Downsindroom-kinders bymekaar kom en mekaar ondersteun.

Die Naudés wil ook graag aan nuwe ouers of mense wat onkundig is oor Downsindroom, inligting en wenke gee om hulle te help om dié toestand beter te verstaan.

Die egpaar is ook deel van ondersteuningsgroepe in Gauteng en woon gereeld dié groepe se byeenkomste en uitstappies by.

“Dit is vir ons lekker om saam met ander ouers die pad te stap, maar Secunda-mense is nie so oop oor Downsindroom soos die mense van Gauteng nie,” het mnr. Naudé gesê.

Hulle het al gehoor van gevalle waar ma’s hul Downsindroom-kinders in die hospitaal gelos het na geboorte en verdwyn het toe hulle agtergekom het hul kinders het Downsindroom.

“Baie mense sê Downsindroom-kinders sal nooit kan praat, loop of enige iets doen nie, maar dit is nie waar nie,” het mnr. Naudé gesê.

Die egpaar wil volgende jaar tydens Downsindroom-maand wat in Maart is, meer bewusmaking doen.

Mnr. Naudé het mense aangeraai wat tydens hul swangerskap uitvind hul kinders het Downsindroom, of selfs kort na geboorte uitvind, om dadelik by ’n ondersteuningsgroep in te skakel sodat hulle die regte feite en inligting oor Downsindroom-kinders kan kry.

Me. Naudé het mense wat nie hul Downsindroom-kinders wil hê nie, gemaan om nie aborsies te kry nie, maar om eerder aanneming te oorweeg.

Sy neem Shaun maandeliks vir spraak- en arbeidsterapie en glo met liefde, geduld, tyd en ondersteuning sal ’n Downsindroom-kind ’n normale lewe kan lei.

“Hy is net bietjie stadiger as normale kinders om dinge te doen, maar hy kom daar,” het me. Naudé gesê.

Volgens dokters is die kanse goed dat Shaun eendag na ’n normale hoofstroomskool sal kan gaan.

Die egpaar het reeds met die personeel van skole gepraat en van hulle het reguit gesê hulle neem nie Downsindroom-kinders in nie, terwyl ander gesê het hulle sal sulke kinders in die skool toelaat vir ’n paar maande en kyk hoe hulle aanpas.

“Een van die Downsindroom-kinders in een van die ondersteuningsgroepe in Johannesburg het tot gr. 11 skoolgegaan en is nou ’n bakker en doen goed vir homself,” het mnr. Naudé gesê.

“Die potensiaal is daar vir Downsindroom-kinders, die ouers moet net moeite doen en so vroeg as moontlik met spraak- en arbeidsterapie begin.”

Shaun is gewild onder die Ridge Times se lesers en het onlangs tweede in die koerant se babakompetisie geëindig.

Shaun het met hierdie foto tweede gekom in die Ridge Times se babakompetisie.

Hy het ook al ’n aanlynbabakompetisie gewen.

Die egpaar het koopbewyse gekry en besluit om opvoedkundige speelgoed vir Shaun te koop.

“Ons kies altyd opvoedkundige speelgoed,” het mnr. Naudé gesê.

Hy het genoem dat daar ’n paar maniere is hoe ouers van Downsindroom-kinders finansieel gehelp kan word en nie almal is daarvan bewus nie.

Belangstellendes kan mnr. Naudé skakel by 076 142 1934.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button