TLU SA se bekendmaking van die syfers vir plaasaanvalle en -moorde vir die eerste ses maande van 2018

“Elke lewe is belangrik, en elke moord is een te veel”

Daar is geen rede vir die regering om tevrede te wees nie, en daar is geen rede vir boere om gerus te word nie.

Dié waarskuwing kom van mnr. Henry Geldenhuys, TLU SA se adjunk-president en voorsitter van dié unie se veiligheidskomitee.

Dit volg op TLU SA se bekendmaking van die syfers vir plaasaanvalle en -moorde vir die eerste ses maande van die jaar.

Vanaf Januarie tot Junie vanjaar was daar 206 plaasaanvalle en 33 moorde, volgens TLU SA se syfers.

Dit toon ’n verbetering teenoor die syfers van die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

Vanaf Januarie tot Junie 2017 was daar 220 aanvalle en 44 moorde.

“Solank daar nie ’n nul-syfer is vir aanvalle en moorde nie, is daar niks om oor tevrede te wees nie,” het mnr. Geldenhuys gesê. “Elke lewe is belangrik, en elke moord is een te veel.

“Die regering durf dus nie agteroor sit en tevrede wees nie, bloot omdat vanjaar se syfers beter vergelyk as dié van verlede jaar nie.”

Mnr. Geldenhuys glo die verbetering is te danke aan groter bewuswording en paraatheid onder die boere, en die samewerking met private veiligheidsmaatskappye wat die landbou ondersteun.

“TLU SA wil sy dank uitspreek teenoor dié polisiebeamptes wat inderdaad hulle werk doen, maar helaas is daar nog heelwat ruimte vir verbetering, veral met die opsporing van plaasmoordenaars.

“Te min van hulle word opgespoor en nog minder word suksesvol vervolg, en dit is steeds rede vir kommer.”

Hy het ook ’n oproep op boere gedoen om hul veiligheid nog meer op te knap en meer plaaswagte daar te stel onder die beskerming van georganiseerde landbou om die syfer verder te laat daal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version