Local newsNews

Dr. Hannes Reinecke is ’n man van vele talente

Man glo in tweede helfte van ’n mens se lewe moet jy teruggee.

SECUNDA – Dr. Hannes Reinecke (54), leraar by die N.G. Kerk Secunda-Oosgemeente, glo in die tweede helfte van ’n mens se lewe moet ’n mens eerder gee as om te ontvang.

“Die eerste helfte van ’n mens se lewe gaan gewoonlik oor jouself en jou kinders, jou ideale en jou loopbaan,” het hy gesê.

“Die tweede helfte is daar om terug te gee aan ander en aan God.

“Elke mens kan op sy eie unieke manier teruggee en dit kos niks nie.

“Jy kan jou gawes en talente gebruik om diensbaar aan ander te wees.”

Dr. Reinecke het onlangs van sy sewende staptog in die Visrivier Canyon in Namibië teruggekeer.

Hy was in gr. 9 toe hy dié staptog die eerste keer aangedurf het.

Die tweede keer was 12 jaar gelede en hy kon nie die staptog voltooi nie omdat sy vrou, me. Ronél Reinecke, haar enkel gebreek het.

Sy moes nog een nag in die canyon slaap met haar gebreekte enkel omdat die helikopter haar eers die volgende dag kon gaan haal het.

Sedert 2014 neem dr. Reinecke jaarliks ’n stapgroep na die canyon en dit is vir hom vervullend om te sien hoe ander mense die natuur en nuwe dinge ontdek.

Me. Reinecke was vanjaar vir die eerste keer saam sedert sy haar enkel gebreek het en dié keer kon sy ook dié vyf-dagstaptoer voltooi.

Dr. Reinecke het al verskeie ander staproetes in Suid-Afrika voltooi, onder andere in die Drakensberge en in Sabie.

Hy reël jaarliks staptogte vir die gemeente en hy en sy gesin doen dit graag saam.

Dr. Reinecke het op Kuruman in die Noord-Kaap grootgeword en nadat sy pa dood is toe hy 12 jaar oud was, het die gesin na Grahamstad verhuis.

Sy pa het vermoedelik ’n hartaanval gekry terwyl die gesin met vakansie in Scotsburgh was.

As die oudste van vier kinders het dr. Reinecke die verantwoordelikheid van man in die huis aanvaar.

Hy was as skoolseun deel van die Voortrekkers en was nog altyd lief vir die buitelewe en die natuur.

Na skool het hy vir ’n graad in mariene biologie aan die Nelson Mandela Universiteit in Port Elizabeth gestudeer, maar na sy eerste jaar het hy die Here se roeping op sy lewe ervaar en sy studierigting na teologie verander.

“Ek het in my eerste jaar ’n verdieping in my verhouding met die Here ondervind en geweet Hy roep my vir die bediening,” het dr .Reinecke gesê.

Hy het sy doktorsgraad in teologie verwerf en lees deesdae graag teologiese boeke.

Sy studies is onderbreek toe hy opgeroep is om eers vir twee en ’n half jaar weermag toe te gaan.

Hy het dié tyd in sy lewe baie geniet en dit as ’n fantastiese avontuur beskryf.

Hy is later tot luitenant bevorder.

Dr. Reinecke moes na sy tyd in die weermag nog vir vyf jaar studeer om sy graad in teologie te voltooi.

Na ’n jaar in die kweekskool op Stellenbosch het hy en sy vrou in gemeentes op verskeie dorpe, wat Lady Grey, Theunissen en Melmoth insluit, gewoon.

Hy is in 2004 vir die eerste keer na Secunda beroep en het tot 2009 hier gebly voordat hy ’n beroep na Schweizer-Reineke in die Noord-Westelike provinsie aanvaar het.

Die gesin het daar gebly vir drie jaar en is in 2012 weer na Secunda beroep.

“Ons was bly om terug te kom Secunda toe, ons geniet die mense hier en Secunda is ’n dinamiese plek.”

Dr. Reinecke is al 24 jaar in die bediening en verhoudings met sy naaste en familie is vir hom belangrik.

Hy beskou die huwelik as ’n heilige instelling en ’n verbond en hy en sy vrou doen graag saam Bybelstudie.

In sy tweede helfte van sy lewe help hy mense met geloofsgroei en traumaberading saam met die Here.

Dr. Reinecke het homself as ’n adrenalienverslaafde beskryf en iemand wat hou van ’n uitdaging.

Hy het al 11 keer aan die Comrades Marathon deelgeneem en dit al agt keer klaargemaak.

Hy het vir ’n paar jaar gerus, maar beplan om volgende jaar weer aan die Comrades deel te neem.

Dr. Reinecke se ander groot passie in die lewe is sy perde, sy bye en sy broodbome.

Hy kweek met minstens 20 verskillende spesies broodbome in sy tuin en boer met bye.

Hy het sewe jaar gelede begin perdry toe hy sy dogter geneem het vir perdrylesse toe die gesin nog in Schweizer-Reineke gebly het en die boer gesê het dr. Reinecke moet ook op die perd klim en ry.

Hy het as kind ook perdgery en dit was darem nie heeltemal vreemd vir hom nie.

Sy mikpunt is om nou ’n perdemeester te word en ander die wonder van perde te laat beleef.

Hy ry minstens drie keer ’n week perd en het gesê sy perd, Pavane, het hom geleer hoe om met perde te werk omdat dié perd ’n baie sterk persoonlikheid het.

Hy het ook sewe jaar gelede met bye begin boer.

Hoewel dit in die eerste helfte van sy lewe nog altyd vir hom ’n droom was om met bye te boer, is dié droom nou eers verwesenlik toe ’n boer van Schweizer-Reineke vir hom ’n kas bye gegee het.

Dr. Reinecke is vandag ’n geregistreerde byeboer en sy vrou verkoop die heuning.

Hy het al uitdagings in sy lewe gehad toe hy op die ouderdom van 32 met testikelkanker gediagnoseer is.

Hy het destyds bestraling gekry en is al vir jare skoon van kanker.

As hy nie met die bye, broodbome of perde besig is nie, geniet dr. Reinecke dit om te lees of om tyd met sy gesin deur te bring.

Hy het onlangs vir die eerste keer oupa geword. Liebe is agt weke gelede gebore.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button