Bejaarde egpaar vul pensioen aan deur koeksisters en naalwerk

Hulle bak elke Donderdag sowat 30 dosyn koeksisters op bestelling

SECUNDA – Me. Hannie Rheeder is op 81-jarige ouderdom nog nie lus vir stilsit nie, en haar man, ds. André Rheeder, nog minder.

Dié afgetrede herderspaar wat in Oktober 60 jaar getroud getroud sal wees, is beste maats en is nog knap besig met koeksisters bak vir hul weeklikse bestellings en allerlei ander vlyte om hul pensioen aan te vul.

Me. Rheeder is nog al die jare ’n skrander kleremaker en kunstenaar.

Sy kombineer deesdae dié talente om die oulikste kinderkamerkussings te maak.

Daar is groter kussings met meer detail en kleiner kussinkies wat soos seuntjies en dogtertjies lyk.

Dié tannie het vir etlike jare ’n bruidsboetiek bedryf en trourokke opgetower.

Sy het egter nou ’n pasaangeeër en kan nie meer haar linker arm goed gebruik nie. Dit keer haar en manlief egter nie om weekliks saam die smaaklikste koeksisters in die geweste te maak nie.

Ds. Rheeder doen die harde werk soos die deeg knie.

Hulle vleg saam die koeksisters en saam-saam word dié lekkernye gebraai, in stroop gedip en verpak.

Hulle bak elke Donderdag sowat 30 dosyn koeksisters op bestelling. As daar koeksisters oorbly, verkoop me. Rheeder dit op ’n Saterdag voor A&E op Trichardt.

Die Rheeders skryf die sukses van hul lang huwelik en mooi verhouding toe aan die Here.

Ds. Rheeder het destyds op skool waar hulle in die Kaap gewoon het, geweet hy gaan met dié nooi trou, hoewel sy salig onbewus was van sy gevoelens.

Eers later, toe hy as jong polisieman in Brixton gewerk het en sy ook daar begin verpleeg het, het hulle afgehaak. Hulle het daarna weer terug na hul grootword-wêreld verhuis waar ds. Rheeder ’n tronkbewaarder was.

“Dit was waar die Here my met ’n aardbewing op my knieë gedwing het. Ja, in 1969 was daar ’n groot aardbewing in Tulbach se omgewing en ek het gedink dis die oordeelsdag. Ek het daardie dag tot bekering gekom.”

Ds. Rheeder het eers vir ’n paar jaar op die sendingsveld gewerk en daarna voltyds in die bediening gegaan.

Ná hul aftrede, het die Rheeders vir sowat agt jaar by ’n ouetehuis vir dowes en blindes in Johannesburg gaan werk. “Ons het besluit om daarheen te verhuis waar ons dogter, Hannelie Prinsloo, woon ná rowers ons in ons huis oorval het.

Ons het daardie aand net heeltyd vir die mense gebid. Hoewel hulle ons met vuurwapens aangehou en gedreig het om ons dood te maak as ons nie stilbly nie, het ons aanhou bid en is ons nie beseer nie,” het ds. Rheeder vertel.

Ds. Rheeder het eiehandig die motorhuis by sy dogter in ’n gerieflike eenslaapkamer woonstel met ’n pragtige kombuis omskep.

“Ek doen nog alles myself. Ek sweis en bou en maak self diefwering.”

Hy preek ook nog soms in die Evangelies Gereformeerde Kerk op Secunda.

Mense wat koeksisters of kinderkussings wil bestel, kan me. Rheeder bel by 072 196 2377 of haar kleindogter Sammy by 082 814 6019.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version