Local newsNews

Lede van Ermelo Lugvaart Vereniging vaar goed in Race for Rhinos

Lede van die Ermelo Lugvaart Vereniging het verlede Vrydag en Saterdag aan die Race for Rhinos by Sowa/Sua Panne Botswana deelgeneem. Dié wedren is die grootste lugvaartwedren van sy soort in die wêreld. Deelnemers van onder andere Italië, die Verenigde Koninkryk, Amerika, Iran, Botswana, Zimbabwe en Suid-Afrika het met 114 vliegtuie deelgeneem. Ses vliegtuie van …

Lede van die Ermelo Lugvaart Vereniging het verlede Vrydag en Saterdag aan die Race for Rhinos by Sowa/Sua Panne Botswana deelgeneem.

Dié wedren is die grootste lugvaartwedren van sy soort in die wêreld.

Deelnemers van onder andere Italië, die Verenigde Koninkryk, Amerika, Iran, Botswana, Zimbabwe en Suid-Afrika het met 114 vliegtuie deelgeneem.

Ses vliegtuie van Ermelo het deelgeneem.

André van Rooyen, Jacques Möll en Wollie en Elsa Winckler van Ermelo het ook tydens dié wedren as beamptes opgetree.

Die vlieëniers en navigatorspanne was: JP Swart en Jan Hendrik Jacobsz, Theodor Boshoff en Frans Boshoff, Francois du Plessis en Christoff La Grange (Secunda), Wikus Cloete en Ronnie Schoonraad, Jan Grey en Ryk Pretorius, Jantjie Randell en Johan Muller.

Elke vliegtuig het ’n voorgee volgens sy spoed ontvang. Die deelnemers het kaarte gekry waarop draaipunte geplot moes word.

Op dag een het die vinnigste vliegtuie eerste weggespring en die stadigste laaste. Op dag twee is die wegspring omgekeer en so geskeduleer dat indien elke vliegtuig sy voorgee sou handhaaf, al 114 vliegtuie gelyk oor die wenstreep sou vlieg.

Die roete het oor twee dae gestrek en die afstand was 550km per dag. Navigasiehulpmiddele was beperk tot ’n kompas, kaart en stophorlosie.

GPSe is nie toegelaat nie. Op elke draaipunt was ’n oranje gazebo en waarnemers. Daar moes oor die punte gevlieg word sodat waarnemers die deelnemer kon identifiseer.

Elke vliegtuig het ’n “logger”-vlugopnemer in wat die rigting, roete, spoed en hoogte elektronies monitor. Die data van die vlugmonitors is na elke vlug afgelaai en verwerk.

Die doel was om die roete vinniger af te lê as wat die voorafbepaalde voorgee wat van die deelnemers verwag is. Deelnemers moes al die draaipunte vind om te kwalifiseer vir ’n plek op die uitslaglys.

Daar is ook strafpunte gegee as daar nie by die reëls gehou is nie, soos wanneer draaipunt- en eindpunthoogtes verontagsaam is.

Altesaam 84 van die 114 deelnemers het daarin geslaag om die wedvlug suksesvol te voltooi.

Ermelo Lugvaart Vereniging het hulself onderskei deur drie spanne in die top 30 te hê.

Daar was slegs 34 sekonde verskil tussen die eerste en derde plekke.

JP Swart en Jan Hendrik Jacobsz het in die 15de plek geëindig, Wikus Cloete en Ronnie Schoonraad in die 20ste plek Jan Grey en Ryk Pretorius 22ste, Francois du Plessis en Christoff La Grange in die 51ste plek en Theodor Boshoff en Frans Boshoff in die 69ste plek.

JP Swart en Jan Hendrik Jacobsz het die trofee vir die eerste span oor die wenstreep vir spanne met minder as 500 totale vliegure tussen die vlieënier en navigator gesamentlik ontvang.

JP Swart en Jan Hendrik Jacobz ontvang die trofee vir die eerste span oor die wenstreep vir spanne met minder as 500 vliegure tussen die vlieënier en navigator gesamentlik vanaf mnr. TS Khama.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button