Local newsNews

Belgiese Malinois-honde is beste waghonde veral vir plaaseienaars meen Homan-egpaar

Tessa is die eerste hond wat me. Heleen Homan in haar huis toelaat.

HOëVELD – Mnr. Boeta en me. Heleen Homan het twee jaar gelede hul eerste Belgiese Malinois teef, of Mellie soos dié honderas bekend staan, gekry en dadelik verlief geraak op dié ras.

Hul eerste teef se naam was Rika en hulle het haar by die Genesis K9-eenheid gekoop.

“Ek het altyd ’n Jack Russell gehad wat oral saam met my gegaan het, maar hy is gesteel,” het mnr. Homan gesê.

Hy het ’n video van die Belgiese Malinois gesien en besluit om vir hom so ’n hond te koop.

“Ek was bekommerd oor die veiligheid op die plaas en wou ’n hond aanskaf wat ons veilig kon hou.

“Ek het navorsing oor die Belgiese Malinois begin doen en besluit dit is die hond wat ons moet hê.

“Hulle is die beste waghonde of sekuriteitshonde wat ’n mens kan kry.”

Me. Homan het altyd geglo ’n hond se plek is buite totdat hulle die Belgiese Malinois gekry het.

“Hulle is intelligent en het só vinnig geleer om hul besigheid buite te doen,” het me. Homan gesê.

“Jy wys vir hulle een keer iets, dan snap hulle dit.

“Hulle is nou soos kinders in die huis en hou daarvan om by alle familie-aktiwiteite betrokke te wees.

“Van hulle is vriendelik en selfversekerd, terwyl ander weer skamer en meer teruggetrokke is.

“Hulle is ook baie goed en beskermend teenoor kinders.

“Ons het dit onlangs gesien tydens ’n familiegeleentheid op die plaas.

“My seun het sy drie kinders geroep en met hulle ‘geraas’. Die drie Mellies het tussen my seun en elkeen van die drie kinders inbeweeg en net daar gesit.

“Hulle was glad nie aggressief nie, maar ek dink as my seun nader aan die kinders sou gaan of iets verder sou probeer, sou hulle tot aksie oorgegaan het.”

Mnr. Homan het vertel dat sekuriteitsondernemings vroeër jare veral die Duitse herdershond gebruik het omdat hulle een van die intelligentste honde is, maar deesdae neig baie ondernemings om eerder die Mellies te gebruik en hulle word glo ook graag in Israel en Afghanistan gebruik om onder andere dwelms uit te snuffel, en in oorloë.

Die Mellies is ook deesdae die voorkeurhond om te gebruik in die polisie en word gebruik op lughawens en om te help om renosterstropery te beveg.

Volgens mnr. Homan word dié honde ook opgelei om saam met hul base uit ’n vliegtuig te spring met ’n valskerm.

Dit is glo ook ’n Mellie wat destyds Osama Bin Laden se wegkruipplek uitgesnuffel het.

“Hulle is baie besige honde en opleiding is vir hulle soos ’n speletjie,” het me. Homan gesê.

Die Homans het tans vyf volwasse Mellies en 11 kleintjies.

Die kleintjies speel só rof en is só besig dat me. Homan eers ’n beskermende oorpak gaan aantrek voordat sy in hul hok ingaan.

“Hulle wil speel, maar het al baie van my broeke en hemde stukkend gebyt.”

Dié honde is baie beskermend teenoor hul eienaars en een van die egpaar se tewe, Tessa, volg me. Homan soos ’n skaduwee oral waar sy gaan.

“As jy hul baas is, is jy hulle alles, hulle sal doodgaan om jou te beskerm,” het me. Homan gesê.

“Dié honde is baie goed vir plaasveiligheid,” het mnr. Homan gesê.

Van die Homans se volwasse honde kry tans opleiding by die Genesis K9-eenheid in Pretoria.

Honde kan daar opleiding kry in gehoorsaamheid of opgelei word as aanvalshonde wat dan spesifiek gebruik word om hul base te beskerm.

“Hulle kan geleer word om net op bevel iemand aan te val of as hul eienaar bedreig word,” het mnr. Homan gesê.

Personeel van die Genesis K9-eenheid het reeds gesê Tessa het die potensiaal om opgelei te word as ’n spoorsnyershond.

Van hul honde is al uitgevoer na ander lande soos Meksiko.

“Sedert ons die Belgiese Mellies het, het ek nog nie een keer vreemdes op my plaas of die paaie wat deur my plaas gaan, gesien nie,” het mnr. Homan gesê.

Die Mellies se bynaam is Maligators vanweë die skeurwyse waarop hulle byt wanneer hulle hul slagoffers grond toe gooi. Dit herinner aan die wyse waarop ’n krokodil sy prooi byt.

Mnr. Homan het ’n slaghuis op Evander en een van sy stokperdjies is om met posduiwe te boer en me. Homan is voltyds by die boerdery betrokke as sy nie besig is met die Mellies nie.

Mnr. Boeta Homan en mnr. Kosmos Mahlangu met Tessa, een die Homans se honde wat as aanvalshond opgelei word. Sy sal net op bevel aanval of as haar baas se lewe bedreig word.
Mnr. Boeta Homan met Tessa, een van die egpaar se Belgiese Malinois-tewe.
Me. Heleen Homan het haar hande vol met al die Belgiese Malinois-kleintjies wat gelyk met haar wil speel. Mnr. Boeta Homan help haar om die hondjies te beheer.

Related Articles

Back to top button