Natasha Philpott van Kansa op Secunda het reeds as kind ’n operasie vir skoliose ondergaan

Vrou is al deur moeilike tye.

SECUNDA – Me. Natasha Philpott (37) is in 1996 toe sy op hoërskool was, met veelvoudige skoliose gediagnoseer.

Dit beteken die rugstring buig in ’n S-vorm en me. Philpott moes dringend ’n operasie kry om dit reg te maak omdat haar rugstring na haar longe toe gebuig het.

“As tiener het my ma altyd vir my gesê ek moet regop loop, maar ons het nie besef dit was my rugstring wat skeef was nie,” het me. Philpott gesê.

“In daardie jare het die susters nog die skole besoek en die leerders ondersoek. Die suster het ons skool besoek en gesien dat my rugstring skeef is.”

Me. Phillpott was die eerste kind wat die operasie in die Pretoria-Oos Hospitaal ondergaan het.

Sy was ook die eerste pasiënt in Suid-Afrika waarop dokters die operasie, wat 11 ure geduur het, gedoen het sonder om die pasiënt halfpad deur die prosedure wakker te maak.

Die operasie was suksesvol en me. Philpott het gesê dat sy dieselfde gevoel het as voor die operasie, maar dat haar rugstring net nie meer skeef was nie.

“Ek het eers nie besef dit was só ’n groot en gevaarlike operasie nie.

“Ek was ’n 15-jarige kind en het dit net gesien as drie weke van nie skool toe gaan nie.”

Die hersteltyd na die operasie is twee maande, waarvan me. Philpott 11 dae in die hospitaal was en in dié tyd in die intensiewe sorgeenheid was.

“Mense het na die operasie gereeld vir my gesê my postuur is so mooi en ek loop mooi regop.”

Me. Philpott wil vir Bianca Fourie, ’n gr. 7-leerder van Hoërskool Oosterland, sê sy kan beslis die operasie aanbeveel.

Lees ook: Bianca Fourie word op 1 Junie geopereer

Bianca is ook met skoliose gediagnoseer en moet dringend dié operasie ondergaan, maar haar ouers het nie ’n mediese fonds nie en Oosterland en ander rolspelers het verskeie projekte geloods om vir Bianca geld vir die operasie in te samel.

Me. Philpott het ook gesê dit is belangrik om die oefeninge na die operasie te doen wat die dokters en fisioterapeute aanbeveel.

“Ek het myne nie gedoen nie en my rugstring en spiere het baie styf geword,” het me. Philpott gesê.

Sy het ook die penne wat in haar rug was, eers nege jaar later laat verwyder en nie drie of vier jaar later soos wat sy eintlik moes nie.

“Ek het as kind net nie kans gesien om weer vir ’n operasie te gaan om die penne te laat verwyder nie.”

Me. Philpott het egter ’n brandgevoel in haar nek begin kry weens die penne wat begin roes het en dokters het gesê die penne moes verwyder word toe me. Philpott in 2005 in ’n motorongeluk betrokke was en hulle die penne op die X-strale gesien het.

Sy is getroud met mnr. Edward Philpott en die egpaar het twee kinders, Nathan (17) en Elrike (9).

Me. Philpott het in 2007 ’n baba verloor, maar sy het nie geweet sy was swanger nie en toe sy uitvind sy was swanger op drie en ’n half maande, het sy ’n miskraam gehad.

Die familie het ’n moeilike tyd deurgemaak toe Nathan met ontsteking van die beenmurg (osteomeylitis) gediagnoseer is toe hy ses jaar oud was.

Die gesin sou na Australië emigreer en Nathan se been het probleme op die vliegtuig op pad na Australië begin gee.

“Ons het reeds alles in Suid-Afrika verkoop en sou vir ’n maand by my broer-hulle in Australië bly terwyl ons werk en ons eie blyplek soek.

“Nathan se been het egter op die vliegtuig begin swel en toe ons in Australië land, het hulle ons vir ’n maand onder kwarentyn geplaas.

“’n Suid-Afrikaanse dokter het hom daar gesien en gesê as die virus nog verder teen sy been opbeweeg en tot by sy knie kom, sou hulle sy been moes amputeer anders sou dit Nathan se lewe in gevaar stel.

“Ons het ernstig begin bid en ons familie en vriende gevra om saam te bid. Die virus het nie verder beweeg nie.”

Nathan het ’n operasie ondergaan waartydens die dokters die verdikte been afgekap en die been gedreineer het.

Hulle moes ook sy enkel verwyder en die dokters het vir hom ’n kunsmatige enkel ingesit.

Nathan moes binne drie maande vyf operasies ondergaan.

Dié operasies en mediese kostes het die gesin gedwing om na Suid-Afrika terug te keer en die egpaar moes so gou as moontlik begin werk om die mediese rekeninge te betaal.

Die rekeninge was altesaam R135 000 en die Suid-Afrikaanse klub in Australië het na die gesin uitgereik en die rekeninge vereffen.

“Ons is só dankbaar teenoor die Suid-Afrikaanse klub wat ons gehelp het en die dokters in Australië was fantasties.

“Daar gaan dit eerstens oor ’n lewe en nie eerste oor geld nie.”

Die egpaar het besluit om eers weer op die been te kom in Suid-Afrika en op ’n latere stadium weer te probeer om te emigreer.

Me. Philpott het swanger geraak met Elrike.

“As ’n mens jou oë uitvee, is nog 10 jaar verby en nou boer Nathan voltyds en hy geniet dit baie.”

Die gesin woon al drie jaar op Secunda en me. Philpott werk halfdag by Kansa as administratiewe klerk.

Haar stiefpa, wat vir haar soos haar eie pa was, is verlede jaar dood aan kanker.

Me. Philpott wil Bianca ondersteun op die pad wat sy stap en het gesê sy kan enige tyd met haar in verbinding tree as sy wil praat.

Exit mobile version