CrimeNews

Secunda staan saam teen misdaad

AfriForum Buurtwag kan geskakel word by 079 488 7608.

SECUNDA – AfriForum Buurtwag het Vrydagaand, 18 Mei ‘n massa-patrollie in die provinsie gehou en die polisie en lede van die gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) gevra om ook in te skakel.

In Secunda waar Trichardt en Evander ook bygereken word, het die hele gemeenskap dié aand betrokke geraak.

Volgens me. Joey Venter van AfriForum het die GPF se sektorpolisie, ER24-ambulansdienste en 911 Assist 24/7-kanaal op Zello ook bystand verleen.

Daar is gesamentlik die aand beslag gelê op dwelms in Vaalrivierstraat en by die Total-vulstasie. Die dwelmmiddels wat gekry is, is 17 sakkies dagga en ‘n knoets kokaïen (rock cocaine).

‘n Verdagte is in die groenstrook in Sektor 4 aangekeer en aan die polisie oorhandig.

Volgens mnr. Jan du Plessis, ondervoorsitter, het die patrollies op Evander en Trichardt ook nie veel opgelewer nie.

Die gemeenskap het ook aan die misdaadbekampingsveldtog deelgeneem en hul ondersteuning aan die miskaapbekampers bewys deur tussen 2vm en 3vm op te sit, koffie in hul huise of tuine te drink en met die patrolleerders te gesels.

Lees ook: Raak by AfriForum se buurtwag betrokke in Evander

Inbrake het egter weer deur die loop van Saterdagnag op Secunda plaasgevind. Mnr. Du Plessis het Sondagoggend bystand verleen by hondevergiftigings in Sunsetpark. Nege honde het van gif gevrek en een is nog by die veearts.

Inbrake in Springbokstraat, Lanzeracstraat, Steelpoortstraat, Sablestraat, Komatiestraat en Wilgestraat is ook aangemeld waar honde ook vergiftig is.

“Ons sien uit na die volgende nasionale massa-patrollie en nooi die gemeenskap om betrokke te raak.

“Die sukses van dié patrollies lê in die gemeenskap, die GPF en die polisie se hande.

“Sonder samewerking van almal sal die kriminele aksies nie afneem nie,” het mnr. Hennie Bekker, AfriForum se koördineerder in Mpumalanga, gesê.

AfriForum Buurtwag kan geskakel word by 079 488 7608.

Dié dwelms is Vrydagaand op beslag gelê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button