Secunda AfriForum se jeugtakleier wil ander help

Wanneer mnr. Van Niekerk nie werk, patrolliery of by Afriforum doenig is nie, ontspan hy graag langs die hengelwater of is hy besig om sy VW Polo se klankstelsel op te bou vir klankkompetisies.

Mnr. Harry van Niekerk voel geroepe om na sy medemens uit te reik.

Dié voorsitter van Secunda AfriForum se jeugtak en oud-Pretorianer woon al vir sowat vyf jaar op Secunda. Hy beskryf homself as meer volwasse as die algemene 23-jarige en het baie begrip vir kinders se behoeftiges.

Hoewel hy smoorverlief op sy meisie, me. Nicolene Henning, is, is hy nie van plan om die ja-woord te vra voordat hy nie “ordentlik” vir sy vrou kan sorg nie. “Dis maar hoe ek dinge sien,” het hy verduidelik.

Dié paartjie doen baie dinge saam en is albei lede van Afriforum en is nou ook op die jeugtak se bestuur.

Mnr. Van Niekerk is ’n assistentsekuriteitstegnikus vir ’n veiligheidmaatskappy in Sasol en het vanweëe sy werk oorspronklik eers by AfriForum se buurtwag betrokke geraak.

“Ons het in Desember gehelp om die omgewing by die Eendedam op te ruim en ek is toe gevra om die jeugtak te begin en te lei. Ons is nog ’n jong tak, maar ons het al baie vermag,” het hy trots vertel.

Die jeugtak met lede van ouderdomme ses to 28 het reeds aksies aangepak soos om ’n ton hondekos vir Little Paws Big Hearts in te samel en saam met die hooftak aan die Kansa Relay for Life deel te neem.

Hulle het ook ingespring om mnr. Koos en me. Koekie Barnard se woonstel by Davies Court wat op Saterdag, 5 Mei in ’n brand verwoes is, op te knap. In dié tyd het hulle sommer ook bemoeienis met van die ander bejaarde inwoners gemaak wat gou-gou die jongelinge ingespan het om gordyne op te hang en ander herstelwerkies in en om die tehuis te doen.

Lees ook: Bejaardes se woonstel brand by Davies Court, jonges staan hulle by

Mnr. Van Niekerk het boonop Woensdag so tussen die handewerk in die Barnard-woonstel, ook ’n 90-jarige tannie bygestaan toe sy geval het.

Sy toekomsvisie is om die jeug voor die televisie weg te lok en meer betrokke by hul gemeenskap, hul medemens en die buitelug te kry.

“Ons werk in ons gemeenskap en hoewel ons nie baba-oppassers is nie, maak ons seker dat die kinders wat deel is van ’n aksie, beskerm word. Ons betrek hulle juis om hulle bietjie meer te leer oor dinge soos hoe om ’n muurprop te vervang.”

Wanneer mnr. Van Niekerk nie werk, patrolliery of by AfriForum doenig is nie, ontspan hy graag langs die hengelwater of is hy besig om sy VW Polo se klankstelsel op te bou vir klankkompetisies.

Jong mense wat by die jeugtak betrokke wil raak, kan mnr. Van Niekerk skakel by 073 940 6965.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version