Local newsNews

Kenner praat oor kuberboelies en gevare van sosiale media

Qooh.Me is die gevaarlikste platform op sosiale media.

SECUNDA – Om fisies geboelie te word, is nie die enigste probleem wat skoolkinders deesdae in die gesig staar nie, want kuberboelies is net so ’n groot probleem.

Laerskool Goedehoop het Woensdag, 9 Mei ’n kenner op dié gebied gekry wat met ouers en leerders oor kuberboelies gepraat het.

Me. Carla de Beer van die Digital Law Company het die gehoor toegespreek en ouers gewaarsku teen die gevare van sosiale media.

Volgens haar is Instagram die vinnigste groeiende platform op die oomblik en Facebook is deesdae meer vir die ouer generasie.

“Facebook is vandag se samelewing se nuwe storievertellers en Instagram is die nuwe kunsgalery,” het me. De Beer gesê.

Sosiale media is enige kommunikasie wat geskied oor die internet, dit sluit in WhatsApp, Facebook Messenger, Twitter, Instagram, en meer.

Me. De Beer het Qooh.Me as die gevaarlikste platform tans beskryf.

Dié toep (app) laat gebruikers toe om ander vrae te vra en anoniem te bly.

“Enige iemand kan jou kind vrae vra en hulle weet nie wie dit is nie want daardie persoon is anoniem.

“Ouers, as jou kinders op Qooh.Me is, vra hulle om asseblief van dit af te gaan.”

Me. De Beer het ouers gemaan dat as hul kinders die toep musical.ly gebruik, om hul profiele privaat te maak sodat enige iemand nie hul profiele kan sien nie.

Musical.ly is ’n toep wat gebruik word om video’s te maak en dit dan ook dadelik op die internet of toep uitsaai.

“Toe ons op skool was, het ons nog briefies vir mekaar geskryf.

“Jy het vir jou maatjie ’n briefie gegee as julle klasse gewisel het en sy het dit gelees in die volgende klas en dan weggegooi.

“Net jy en sy het geweet wat daarin staan, dit was privaat.

“Nou bestaan briewe op WhatsApp en dit wat ek dalk vir my vriendin op WhatsApp sê, dink sy is snaaks en vat ’n skermgreep (screen shot) en stuur dit aan en almal weet dan waaroor ons gepraat het.”

Volgens me. De Beer, as iets op Facebook of enige ander vorm van sosiale media gepubliseer word en net een ander persoon sien dit, word dit op dieselfde manier hanteer as op die voorblad van ’n koerant.

“Dink mooi voordat jy iets op sosiale media plaas.

“As jy op ’n hoofweg ry en daardie groot advertensieborde langs die pad sien, dit is sosiale media.

“So, as jy nie gemaklik voel dat die foto of woorde wat jy op sosiale media wil plaas op so ’n groot advertensiebord langs die pad is vir almal om te sien nie, moet dit dan nie plaas nie.”

Me. De Beer het ouers gemaan om hul eie privaatheid en dié van hul kinders te beskerm en in gedagte te hou dat kinders in vandag se tyd reeds van die ouderdom van twee jaar oud af ’n digitale voetspoor het omdat ouers foto’s van hul kinders op sosiale media plaas.

Sy het ouers aangeraai om ook hul kinders se Instagram-profiele privaat te maak sodat net mense wat hulle ken hulle kan volg, en nie vreemdelinge nie.

“As jy ’n publieke profiel op Instagram het, kan enige iemand jou foto’s van Instagram af neem en daarmee maak net wat hulle wil.

“Daar was ’n geval waar iemand oorsee foto’s laat druk en verkoop het wat hy van ander mense se Instagram-profiele af gekry het en hulle kon niks aan hom doen nie en hy het ook nie nodig gehad om hulle te betaal vir hul foto’s nie.”

Me. De Beer het ouers ingelig dat werkgewers deesdae na aansoekers se profiele op sosiale media gaan kyk en dan besluit of hulle hulle gaan aanstel of nie.

“Jy het deesdae ’n digitale CV, werkgewers gaan kyk op sosiale media wie is jy en wat jy doen.

“Kinders dink dis verskriklik snaaks om wydsbeen te sit met ’n sigaret in die een hand en ’n drankie in die ander hand en dan foto’s te neem en dit te publiseer.

“Wees versigtig watter foto’s jy op sosiale media plaas, dit is teen die wet vir kinders onder die ouderdom van 18 om alkohol te gebruik.

“Foto’s op die internet is jou digitale skaduwee, dit is soos ’n tatoeëermerk, foto’s op die internet bly vir ewig.

“As jy foto’s plaas, moet jy bereid wees om dit vir die volgende 100 jaar te sien.”

Sy het ouers aangemoedig om deur hul kinders se sosiale media profiele te gaan en te kyk wat hulle daarop deel en waaroor hulle praat.

“As ek vir kinders vra hoe Facebook geld maak, sê hulle vir my met lugtyd of data.

“Dit is nie hoe hulle hul geld maak nie, maar deur advertensies.

“As iets verniet is, is jy die produk, Facebook gebruik jou profiel om jou te adverteer aan ondernemings.

“Facebook mag jou inligting gebruik net soos wat hulle wil en WhatsApp en Instagram is ook nou deel van Facebook.”

Me. De Beer het ’n prentjie gewys van ’n rooi bussie en gevra of kinders saam met ’n vreemde oom in dié bussie sal klim. Meeste het nee gesê.

“So, jy sal nie saam met die oom in die bussie klim nie, maar vreemde ooms en ander kan al jou foto’s en inligting op Instagram sien.

“Dit is dieselfde kosep, dit is net op die internet.”

Me. De Beer het ouers ook teen SnapChat en speletjies wat kinders op die internet speel, gewaarsku.

Sy het vertel van ’n 13-jarige meisie wat probeer selfmoord pleeg het nadat sy met ’n 14-jarige seun in haar skool op WhatsApp gepraat het en hy haar 56 keer gevra het om ’n kaal foto van haarself te stuur.

Die meisie het glo eers nee gesê, maar na 56 keer wel ’n foto gestuur wat die seun toe vir almal in die skool gestuur het.

“Leer jou kinders om nee te sê, nee is nee, dit beteken nie vra my totdat ek ja sê nie.”

Me. de Beer het gesê dat kinders wat kaal foto’s van hulself neem en vir maatjies stuur, aangekla kan word van die besit, vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie.

Die nuutste vorm van aanlynboelies is kinders wat ander kinders op groepe op WhatsApp sit en hulle dan 10 minute later weer verwyder.

Hulle sal dié proses herhaal totdat die kind wat geteiken word ’n lae selfbeeld het en mismoedig voel.

Sy het gesê as kinders video’s maak van ander kinders wat baklei, is die kind wat die video maak net so skuldig soos die bakleiers.

Sy het mense ook aangeraai om nie dié video’s op sosiale media te versprei nie, maar om eerder die skoolhoofde in te lig en dit vir hulle te stuur.

“Dit is belangrik om jou ligging op jou foon en sosiale media af te sit, want anders kan enige iemand sien waar jy is.

“Jou kinders moet ook hul liggings op Instagram afsit.”

Me. De Beer het aanbeveel dat selfoongebruikers nie ’n uur voor slaaptyd op hul fone kyk nie omdat die skerms van selfone, televisies en rekenaars lig vrystel wat maak dat gebruikers dan sukkel om aan die slaap te raak.

“Bêre jou selfoon en bestee tyd met jou geliefdes, die selfone sal altyd daar wees, jou familie en geliefdes nie,” het me. De Beer afgesluit.

Related Articles

 
Back to top button