Local newsNews

Bethal Landelike Veiligheidsgroep hou algemene jaarvergadering en praat oor nuutste tegnologie

Nuwe tegnologie kan boere waarsku terwyl misdadigers nog na plase op pad is.

BETHAL – Boere het Donderdagaand, 3 Mei by Grasslands byeengekom vir die Bethal Landelike Veiligheidsgroep se algemene jaarvergadering.

Verskeie sprekers het die boere toegespreek oor die nuutste tegnologie wat vir sekuriteit en beveiliging gebruik word en die boere het ook ’n ete genuttig.

Mnr. Daan Malan het die vergadering geopen en gesê die doel van die groep is om inligting aan boere te gee sodat hulle hulself en hul gesinne kan beveilig.

“Ons wil jou inlig oor wat die bedreiging is en wat die bedreiging van jou as boer gaan vereis,” het mnr. Malan gesê.

“Ons het hoop, want met Christus binne jou, is daar altyd hoop en kan ’n mens bo jou omstandighede uitstyg.”

Hy het al die borge wat die aand moontlik gemaak het, voorgestel en bedank.

Mnr. Hennie Bekker, komiteelid, het gesê hy sien boere begin al hoe meer pro-aktief optree en dit help om groter strukture te vorm.

Lees ook: Bethal-boere kan 30 persent tyd en 20 persent diesel bespaar

Mnr. Sys Prinsloo, komiteelid, het gesê daar is ’n tekort op Bethal om ’n reaksiegroep spesifiek vir plase te stig.

“By die plase waar daar wel aanvalle was, het ek gesien dat nie een van daardie boere deel was van een van die WhatsApp-groepe of in radioverbinding met ander boere was nie,” het mnr. Prinsloo gesê.

“Die moontlikheid is daar dat elkeen van ons aangeval kan word en baie kere kry die misdadigers die inligting by ons huishulpe.

“Hulle word gedreig of omgekoop om inligting te gee.

“Plaasaanvalle word nie net oornag beplan nie, dit word drie maande of langer vooruit beplan waartydens hulle die huis en bewegings dophou.

“Gaan kyk in die oggende om jou huis en erf of daar voetspore is of sigaretstompies lê, kyk vir wegkruipplekke om jou erf waar diewe moontlik kan skuil en jou huis dophou.

“In baie plaasaanvalle het die aanvallers met die honde maatjies gemaak omdat hulle elke aand jou huis dophou en die honde al gewoond geraak het aan hulle.”

Die Bethal Landelike veiligingsgroep kan kursusse aanbied in onder andere wapenhantering.

Mnr. Christo Briedenhann van Strat Tech praat met die boere oor verskeie tegnologiese oplossings vir veiligheid.

Mnr. Prinsloo het boere aangeraai om hul vroue en kinders al van ’n jong ouderdom af te leer hoe om ’n vuurwapen te hanteer en wat om te doen in geval van nood.

Mnr. Malan het gesê die groep benodig geld om opleiding te verskaf en aktief op te tree.

Mnr. Christo Briedenhann van Strat Tech, ’n onderneming wat op sekuriteit en beveiliging met die nuutste tegnologie fokus, het met boere oor nuwe metodes van beveiliging gepraat.

“Ons wil kyk hoe ons die hele gemeenskap met tegnologie kan beveilig,” het mnr. Briedenkamp gesê.

“Vir ons gaan dit oor oplossings, ons wil weet wat is jul risiko’s en julle grootste probleme rakende veiligheid.

“Ons wil dit moontlik maak vir boere om ’n vroeë waarskuwing te kry nog voordat iets gaan gebeur en ons wil ook by die polisie betrokke raak en hulle help sodat hulle hul werk beter kan doen.

“Vandag se kriminele is professioneel en gaan met koeëlvaste baadjies en radio’s en toerusting wat jou selfoon afskakel sodat jy nie vir hulp kan skakel nie.

“Die gemiddelde misdadiger het reeds 104 huisbrake gepleeg teen die tyd dat hy in die tronk sit.”

Mnr. Jacques Coetzee, ook van Strat Tech, het vir boere gewys hoe hommeltuie werk en wat hulle alles daarmee kan doen.

“Met die hommeltuie kan jou grensdrade gepatroleer word en dit kan vroeë waarskuwings gee as misdadigers na jou plaas op pad is.”

Dié onderneming het ook verskeie toepassings (apps) wat op selfone afgelaai kan word en inwoners kan help om veilig te wees.

Die aand is afgesluit met ’n demonstrasie oor hoe om die hommeltuig te vlieg.

Mnr. Daan Malan het die algemene jaarvergadering van Bethal Landelike Veiligheidsgroep Donderdag, 3 Mei by Grasslands geopen.

Related Articles

 
Back to top button