Local newsNews

Bejaardes se woonstel brand by Davies Court, jonges staan hulle by

Mnr. Du Plessis het gesê hulle benodig nog kombuisware vir die Barnards en ook ’n loopkarretjie vir ’n ander inwoner van Davies Courts.

SECUNDA – ’n Bejaarde egpaar wie se woonstel in Davies Court Saterdagoggend, 5 Mei erg in ’n brand beskadig is, gaan eersdaags selfs meer terug ontvang as wat in die vuur verwoes is.

Die brand het vroeg die oggend in mnr. Koos en me. Koekie Barnard se woonstel op die boonste vloer uitgebreek terwyl hulle nog geslaap het.

Volgens me. Barnard het hul vier kleinkinders, Alexis (11), Damian (5), Zihan (4) en Bjorn (18 maande), die vorige nag by hulle oorgebly en het hulle sommer vir die kinders ’n bed op die sitkamervloer van die eenslaapkamerwoonstel gemaak.

“Klein Bjorn het ons kom wakker maak omdat daar vuur was,” het me. Barnard vertel.

Mnr. Barnard het dadelik die woonstel se krag afgeskakel terwyl die kinders en hul ouma by die vensters uitgeroep het om hulp. Hulle het net betyds die woonstel ontruim.

Mnr. Johan Human het die Barnards eerste te hulp gesnel en die vuur met ’n brandslang probeer blus. Hy het ’n verskroeide voorkop gehad om daarvoor te wys. Ander inwoners het ook naderhand bygekom om te help.

Die sitkamer het die meeste brandskade opgedoen.

Mnr. Harry van Niekerk (voorsitter van die Afriforum Jeugtak) Dinsdag in die woonstel waar ’n werkspan ingespring het om die woonstel op te knap.

Mnr. Barnard het gesê hulle sou by hul kinders tuisgaan todat hulle weer kon terugtrek.

Afriforum se jeugtak het reeds Saterdag ingespring om die Barnards te help.

Mnr. Jan du Plessis van Afriforum, en mnr. Harry van Niekerk van Afriforum Jeug het verlof by hul verskeie werke geneem. Die Afriforum-span het met behulp van skenkings en bydraes uit die gemeenskap reeds die woonstel skoongemaak en werkspanne ingekry om die mure te verf en die woonstel op te knap.

Mnr. Du Plessis het gesê die woonstel sal uiteindelik heeltemal oorgedoen word met nuwe matte, verf en selfs badkamerteëls.

“Ons word baie bederf terwyl ons hier werk. Die inwoners dra gereeld vir ons eetgoed en koffie aan,” het hy Dinsdag vertel.

Mnr. Van Niekerk het gesê hulle beplan nog om ’n volledige lys op te stel van skenkers wat bedank moet word. Van die ondernemings wat genoem is, is HDM, Roman Alarms, JTR en GTR.

Intussen word die jong mense se handewerk goed benut onder die bejaarde inwoners. Hulle het reeds ook ander inwoners se behoeftes raakgesien en reeds begin met takies soos gordyne ophang.

Mnr. Koos Barnard Saterdagoggend in hul woonstel wat gebrand het.

Hulle wil ook graag ander woonstelle uitverf. Mnr. Du Plessis het gesê hulle benodig nog kombuisware vir die Barnards en ’n loopkarretjie vir ’n ander inwoner van Davies Court.

Enigeen wat die jeugtak wil help om die inwoners by te staan, kan mnr. Van Niekerk skakel by 073 940 6965.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button