Hoërskool Secunda se kafeteria amptelik geopen

Leerders kan hier eet, leer of ontspan.

SECUNDA – Hoërskool Secunda se langverwagte kafeteria is Vrydagaand, 13 April amptelik ingehuldig met ’n onthaal om die borge en ondersteuners te bedank.

Dié eerste fase van die bouprojek het sowat R5,3 miljoen gekos wat volgens mnr. Paul van den Berg, die skool se direkteur van bemarking, meestal deur borge en skenkings befonds is. Hy en sy span het ook geldinsamelingsfunksies gehou wat die boufonds aangevul het.

Die volgende boufase is die tweede verdieping waarby mnr. Van den Berg se nuwe kantoor ook ingesluit sal wees.

The Chill Zone, die kafeteria, is opgerig om leerders ’n plek te bied waar hulle smiddae iets kan eet, die Wifi kan gebruik om hul huiswerk te doen en om te ontspan tussen skooltyd en sportoefening.

“Ons het besef daar is baie kinders wat reeds vroegoggend by die skool opdaag en eers teen sononder opgelaai word,” het mnr. Lourens Pieterse, hoof, verduidelik.

Die vorige en huidige beheerliggaam is Vrydagaand ook bedank vir hul algehele toewyding en bydrae tot die gebou.

Volgens mnr. Van den Berg kan die publiek ook per afspraak daar gaan eet.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version