Gertie geniet lewe na aftrede by Kristopher Ryan Sentrum

Gertie se Downsindroomdogter is gelukkig by oord op Brits.

SECUNDA – Me. Gertie Montgomery geniet haar afgetrede nadat sy sowat vyf jaar gelede afgetree het by die Kristopher Ryan Sentrum waar sy vir 14 jaar gewerk het.

Haar dogter, me. Charmaine Montgomery, het Downsindroom en dit is hoe me. Montgomery se liefde vir gestremdes begin het.

“Toe Charmaine vyf maande oud was, het ons gesien iets is fout,” het me. Montgomery vertel.

“Die klinieksuster het my gevra of ek my baba by ’n dokter gehad het en gesê sy dink ek moet haar na ’n dokter neem.

“Die dokter het bevestig dat Charmaine Downsindroom het en ek het nie geweet wat dit regtig beteken nie.

“Hy het gesê sy moet in ’n tehuis gesit word, maar my man het gesê sy het reeds ’n huis by ons.”

Me. Montgomery het Charmaine tuis versorg en toe sy drie jaar oud was, het hulle haar by Marietjie Skool vir Gestremdes op Secunda ingeskryf.

“Ek en my man het eendag by die skool gesit en kyk hoe Charmaine hardloop en lag en ek het vir my man gesê sy is gelukkig.”

Me. Montgomery het in die 90s besluit om ’n sosiale groep wat maandeliks bymekaar kom, vir Downsindroomkinders en hul ouers te stig.

“Ek het Marietjie Skool toe gegaan en al die telefoonnommers gekry van die ouers wat Downsindroomkinders het en hulle besoek en van my idee vertel.

“Ons het lekker dinge gedoen met die kinders, soos om piekniek te hou, aerobiese oefeninge, te braai, speletjies, swem by iemand se huis en ons het ook Adullam Sendingstasie besoek om vir die kinders al die plaasdiere te gaan wys.”

Me. Montgomery het gesorg dat daar iets lekkers te ete vir die ouers en kinders was tydens elke byeenkoms.

Verskeie kerke het dié projek ondersteun en betrokke geraak.

Twee van die kinders se ouers, me. Joy du Plessis en me. Mary Meyer, het me. Montgomery genader en voorgestel dat hulle iets begin op ’n meer gereelde basis in plaas daarvan om net een keer ’n maand byeen te kom.

Me. Du Plessis se seun, Ryan du Plessis, was ook ’n Downsindroomlyer en me. Meyer se seun, Kristopher, is outisties.

Me. Mongomery het besef daar is ’n behoefte vir so iets op Secunda en die drie vroue en ander ouers het ’n sentrum vir gestremdes begin wat later as die Kristopher Ryan Sentrum bekendgestaan het.

Me. Montgomery het gesê daar was baie uitdagings om die sentrum oop te maak, hulle moes ’n geskikte perseel kry en daar was verskeie wetlike aspekte wat hulle in ag moes neem.

Die sentrum het begin met net nege kinders en hulle het eers ’n klaskamer by Marietjie Skool gebruik.

Die munisipaliteit het in 2009 vir hulle die perseel gegee waar hulle vandag steeds is.

Sasol en mnr. Johan de Lange, destydse hoof van Marietjie Skool, het hulle baie ondersteun en gehelp om die sentrum oop te maak.

“Die sentrum het vir my kind ’n plek gegee om heen te gaan toe sy klaar was by Marietjie Skool.”

Leerders kan net by Marietjie Skool bly totdat hulle 21 is.

Lees ook: Kristopher Ryan Centre in Secunda in dire need of your help

Me. Montgomery het by Kristopher Ryan Sentrum afgetree toe haar man, mnr. John Montgomery, afgetree het.

Hulle het besluit om Charmaine toe nie meer na Kristopher Ryan Sentrum te stuur nie en sy was eers by die huis, maar het verveeld geraak en was nie gelukkig nie.

Die egpaar het besef hulle word ouer en was bekommerd oor wat van Charmaine sal word as hulle nie meer daar is nie en het besluit om haar in ’n oord vir gestremdes te plaas.

“Ons het lank gesoek na ‘n geskikte oord, want ons het vir haar ’n huis weg van die huis gesoek, maar ook ’n plek met Christelike waardes en beginsels.”

Die egpaar het op Die Oord op Brits besluit en me. Montgomery het gesê Charmaine bly só lekker daar dat sy soms nie eers vir naweke of vakansies na Secunda wil kom nie.

Me. Gertie Montgomery is tuis agter die klavier.

“Sy geniet dit daar, sy het vriende daar en hulle doen handwerk en dek die tafels en het ander take wat hulle moet verrig.

“Soms as ek haar wil gaan haal om te kom kuier, sê sy sy kan nie, want sy het werk om daar te doen.”

Me. Montgomery gee musieklesse vir sowat 12 leerders en het sedert sy ses jaar oud was, self musieklesse geneem.

Sy het na skool haar graad in musiek verwerf en geniet dit om nuwe mense te ontmoet deur die klavierlesse wat sy gee.

Sy is al vir 31 jaar die orrelis van die Hervormde Kerk op Trichardt en het voor dit by ander kerke orrel gespeel.

Me. Montgomery het vier kleinkinders waarvan sommiges in Kanada woon.

Sy bestee graag tyd saam met haar ander kleinkinders wat op Trichardt woon en doen graag naaldwerk.

Sy sien uit na ’n kuier in Kanada by haar dogter, skoonseun en kleinkinders later vanjaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version