Local newsNews

Dans help jou om ’n beter uitkyk op die lewe te hê, meen dansinstrukteur van Secunda

“Enigeen kan dans, jy benodig slegs twee bene, ’n lyf, motivering en ’n brandende passie”

SECUNDA – Jy benodig slegs twee bene, ’n lyf, die regte gesindheid en motivering, en ’n brandende passie om ’n goeie danser te wees.

Só meen mnr. Christiaan Els (34), dansinstrukteur van CF Els Dance Studio en dans- en kuns-onderwyser by Highveld Park High School. Hy gee ook rekenaartoepassingstegnologie vir gr. 8-leerders.

Hy het in 2002 geleer om te dans om nie af te steek by sy vriende op hul matriekafskeid nie, maar het dit só geniet dat hy ingestem het om ’n dansstudio op Secunda vir sy destydse dansinstrukteur wat van Potchefstroom was, te open.

Die stigting van sy eie studio onder sy eie naam het vyf jaar later gevolg.

“Die onderwysding het eintlik onverwags gebeur. Ek wou eintlik ’n argitek geword het, maar is vandag glad nie spyt oor hoe dinge uitgedraai het nie.”

Highveld Park High School het hom in 2008 genader om dansstudies, ’n hoërskoolvak wat teorie en prakties insluit, aan te bied.

“Só is ek ingewerk om sommer aan te bly as ’n kuns- en dansonderwyser vir gr. 8-leerders. Ek het nog altyd my eie studio gesoek en toe ek dié studio sien, toe sien ek my toekoms daar.”

Mnr. Els is ’n kampioendanser. Sy persoonlike hoogtepunt was in 2008 toe hy die Mpumalanga solo Latynse professionele kategorie gewen het en met ’n goue medalje en erekleure beloon is. Hy het ook die solo energie professionele kategorie gewen.

“Ek het ook al aan verskeie solo SA-kampioenskappe deelgeneem.”

Hy is ook ’n kunstenaar, maar tyd vir skilder is daar nie juis nie.

“Ek bied saans dansklasse aan en naweke is gevul met privaatklasse of ons het kompetisies op ander dorpe. Ek doen ook my eie administrasie. Ek DJ ook nou en dan op troues of funksies of ons doen promosiewerk vir ondernemings.

“Dans is my safe place, my happy place, my inspirational place; ’n plek waar jy net kan ontsnap en jouself wees.”

Mnr. Els rig verskillende dansstyle af, van baldanse en Latyns Amerikaans, tot sokkie-langarm en die openingsdans vir paartjies wat trou.

“Ek is mal oor Latyns Amerikaans en bied binnekort ook Street Hip Hop aan. Natuurlik is ek nie so mal oor ballet nie, maar ek kan ander darem leer en my studente doen verbasend goed daarin.

“Ek geniet elke oomblik daarvan om met mense te werk. Mense kom nie altyd net vir dans nie, maar ook om van die werklikheid te ontsnap en of dit nou werkstres is of oefening of emosionele trauma en selfs selfbeeldprobleme, dans help hulle om gemakliker oor hulself te voel en om ’n beter insig te hê oor die lewe.”

Klasse word aangebied van Maandae tot Donderdae op Secunda, Dinsdae op Standerton en binnekort ook Donderdae op Ermelo waar mnr. Els eersdaags ’n studio open.

Hy droom daarvan om eendag wêreldwyd dansstudios te besit.

Mnr. Els meen almal kan goeie dansers word afhangende van hoeveel hulle in hulself glo en hoe gemotiveerd hulle is. Sommiges leer vinniger as ander.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button