Ontmoet die man agter die kamera

Op ’n dag het hy besluit om te begin foto’s neem, het begin eksperimenteer en net daar het die gogga hom gebyt.

Die Hoëvelder publiseer gereeld foto’s van Andrew Roos en het die veelsydige man agter die kamera van nader gaan leer ken.

Andrew is op Ermelo gebore en getoë en het aan EHS gematrikuleer.

As klein seuntjie was radiobeheerde vliegtuie sy stokperdjie wat hy met oorgawe beoefen het.

Hoewel hy geen formele musikale opleiding het nie, het hy homself geleer om musiekinstrumente te bemeester.

As skoolseun was hy elke vakansie agter die klawerbord in wyle Johan Stoltz en Jammies Jamneck se dansorkes by Badplaas se vakansieoord.

Ná skool het hy sy weermagdiens by die Kroonstad Gevangenis gedoen en as lid van die destydse Kroonstad Gevangenis Orkes die tuba bespeel.

Hy het permanent by die gevangenisdiens aangesluit en was vir vyf jaar lid van dié orkes wat destyds die eerste militêre orkes was wat vroue toegelaat het. Hulle het meestal as vermaaklikheidsorkes opgetree en nie soseer by militêre geleenthede nie.

’n Hoogtepunt elke jaar was die destydse Durban Taptoe waar al die militêre orkeste in die land in die “grand finale” saamgespeel het en, volgens Andrew, ’n baie aanskoulike geleentheid was.

Sedert 1992 het hy saam met Casper de Vries die land getoer en was soms net vir twee weke van die jaar nie besig met vertonings nie.

Behalwe dat hy die klawerbord in Casper se komiese vertonings bespeel het, het hulle ook ’n Abba-vertoning aangebied.

’n Maandlange vertoning in teaters soos die Staatsteater, Sand du Plessis teater en Theatre on the Bay met net Sondae as rusdae, was deel van sy lewe.

Kaartjies vir hul vertonings was ’n jaar voor die tyd reeds uitverkoop.

Hulle het ook in After Dark opgetree waar kunstenaars soos wyle Johannes Kerkorrel, Amanda Strydom en Nataniël bekendheid verwerf het en het in verskeie televisieopnames verskyn.

Intussen het sy paaie gekruis met Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock en het hy landwyd saam met hulle getoer.

Hulle het ook by kunstefeeste soos die KKNK en Aardklop opgetree.

Hy het saam met Richard van der Westhuizen by die Ukasi Fees in Londen opgetree en hulle het twee keer in België gaan sing en musiekmaak.

Selfs in sy besige skedule het hy tyd gehad om sy eie musiekateljee, Brak Musiek, te vestig waar hy CD’s van kunstenaars soos Richard van der Westhuizen, Disselblom, Juan Boucher, Karen Zoid en Hugo (Deur die Straights) opgeneem het en steeds gereeld bekende kunstenaars opneem.

Hy en Hugo het ook in Australië Afrikaanse musiekliefhebbers gaan vermaak.

Andrew het die EHS se blaasorkes vir ’n paar jaar afgerig en hulle musiek geskryf.

Dié orkes het destyds vir vyf jaar agtereenvolgens die Suid-Afrikaanse Skole Kampioenskap gewen.

Hy doen ook al vir baie jare die verwerking en opname van die klankbaan van Laerskool JJ van der Merwe se revues.

Hy het vertel dat hy nooit werklik in fotografie belang gestel het nie, maar het egter die toerusting aangekoop om musiekvideo’s van die kunstenaars, wat by hom opneem, te maak en van sy video’s is al op televisie gebruik.

Op ’n dag het hy besluit om te begin foto’s neem, het begin eksperimenteer en net daar het die gogga hom gebyt.

Aanvanklik was dit net ’n stokperdjie en het hy nie sy foto’s aan ander gewys nie.

Hy het in 2015 by die Ermelo Fotoklub aangesluit en het vir drie jaar agtereenvolgens weggestap met die prys as beste juniorfotograaf van die jaar.

Die klub gee sy lede maandeliks ’n tema en hy het ook vir drie jaar die prys gewen as beste temafotograaf van die jaar.

Hoewel hy ateljeewerk geniet, is hy versot daarop om wild af te neem en huiwer nie om die pad Kruger Wildtuin of selfs Botswana toe aan te durf om wilde diere vas te lê nie.

Hy bestuur dan ’n vierwielaangedrewe voertuig sodat hy selfs op onherbergsame plekke foto’s kan neem en wil graag fotografie as ’n beroep beoefen, veilings afneem en kataloguste saamstel.

Andrew glo dat goeie foto’s soms vanself gebeur, maar dat jy jou foto moet beplan en baie geduld aan die dag lê om te wag vir die regte oomblik.

Hy het bygevoeg dat dit goed is om soveel as moontlik foto’s te neem en later te besluit wat jy gaan gebruik, al dan nie.

Hy het egter nie sy passie vir musiek verloor nie en tree nog gereeeld op en skaaf tans aan ’n bekende kunstenaar se CD.

Sy raad aan voornemende fotograwe is om soveel as moontlik op die internet navorsing te doen, aan te sluit by ’n plaaslike fotoklub om mense met ’n gemeenskaplike belangstelling te ontmoet, en aan te hou oefen.

Exit mobile version