Local newsNews

Dewald benodig hulp om te kan loop

“Hy raak soms baie gefrustreerd met homself as hy nie kan rondbeweeg soos hy wil nie,” het me. Smit gesê.

Dewald Mareé, ’n vier-jarige seun van Ermelo, is op sewe maande met water op die brein en ’n hobbel (brug) wat op sy rug uitgesteek het, gebore.

Water op die brein is ’n abnormale opbou van serebrospinale vloeistof in die ventrikels van die brein.

Die vloeistof is dikwels onder verhoogde druk en kan vergroting van die kop veroorsaak en ook die brein beskadig.

Dewald het in April 2013, toe hy slegs ’n maand oud was, ’n operasie ondergaan om die hobbel te verwyder en dreineringspype vir die water op sy brein, te laat inplant.

Slegs drie maande nadat Dewald vir dié operasies gegaan het, het sy ouers, mnr. Andrew Mareé en me. Veronica Smit, gesien dat Dewald se voete na mekaar trek.

Dit het veroorsaak dat hy steeds nie op sy eie kan staan en loop nie. Hy kan wel rondbeweeg deur te seil.

“Hy raak soms baie gefrustreerd met homself as hy nie kan rondbeweeg soos hy wil nie,” het me. Smit gesê.

Hulle het Dewald na ’n fisioterapeut op Ermelo geneem wat voorgestel het dat hulle die voete breek om hulle reg te laat aangroei.

“Ons het nie van dié idee gehou nie, omdat ons hom nie meer wou laat ly nie.”

Dewald se ouma, me. Nella Smit, het ’n berig in ’n nasionale tydskif gelees oor dr. Kobus Smith wat op kinders met soortgelyke probleme as Dewald opereer.

Familie van die gesin het dadelik uitgehelp om die nodige geld bymekaar te maak sodat hulle Dewald na die dokter kon neem.

Die gesin het in November verlede jaar die geld bymekaar gekry om Dewald na dr. Smit in Bloemfontein te neem. Hy het aan die ouerpaar gesê dat Dewald se heupe uitgehaak het en dat hy wel sal kan leer loop, maar nooit sal kan hardloop nie as hy ’n operasie ondergaan waartydens daar aan die spiere in sy voete gewerk word nie.

Dewald se ouers het die dokter se mening gevra oor die moontlikheid om die voete te breek, maar hy het voorgestel dat die operasie op Dewald se spiere die beste kans is om ten volle te herstel.

Volgens me. Smit het die dokter na evaluasies aangebied om die operasie gratis te doen.

Die ouerpaar samel tans eksta geld in vir onder andere verblyf in Bloemfontein.

As jy die gesin kan help, skakel die Hoëvelder by 017 811 1221.

Related Articles

Back to top button