Forensiese maatskaplike op Secunda help kinders wat misbruik is

Tarina Hattingh is ’n stem wat opstaan in die hof vir kinders wat misbruik en mishandel is.

Me. Tarina Hattingh is ’n stem wat opstaan in die hof vir kinders wat misbruik en mishandel is.

Sy is ’n forensiese maatskaplike werker wat gereeld verslae oor moontlike seksuele misdrywe vir die hof opstel en verskyn gereeld in die getuiebank.

Wanneer sy ’n kind evalueer wat moontlik seksueel misbruik is, moet sy soveel as moontlik inligting by die kind bekom sonder om emosioneel betrokke te raak.

“Die hof is my kliënt en ek moet dus objektief regdeur die pre-evaluering en die forensiese evaluering bly. Dit is moeilik, maar in die meeste gevalle sal die kind net een keer oopmaak en vertel wat gebeur het en daardie inligting moet ek vir die hof kry. Die regte vrae moet gevra word en die inligting moet reg hanteer word sodat dit water kan dra in die hof.”

Sy mag byvoorbeeld nie ’n huilende kind vasdruk en vertroos nie, maar slegs ’n sneesdoekie aangee en mooi praat.

“Die polisie kan nie altyd alles hanteer nie en die konstabel in die aanklagkantoor is nie noodwendig opgelei om met ’n slagoffer te werk nie.”

Me. Hattingh moet ook gereeld met die verdagte oortreder ’n onderhoud voer waar sy ten alle tye objektief moet bly.

“Ons lewe in ’n siek samelewing waar kinders selfs in hul ouerhuise waar hulle veilig moet wees, vir seks voorberei en misbruik word.”

Sedert sy self ’n ma is, is dit soveel moeiliker om objektief te bly en haar emosies in toom te hou wanneer sy al die lelike goed aanhoor.

Me. Hattingh het op Grootvlei grootgeword en op Balfour matriek geskryf.

Sy is later na die Pukke om BA-maatskaplik te studeer. Vandaar het sy eers vir die SAVF op Secunda gewerk.

By Famsa het sy terapie toegepas, maar het vir ’n groter uitdaging gesoek en in Pretoria by die Jakaranda Kinderhuis gaan werk.

Daar was sy verantwoordelik vir die gesonde ontwikkeling van 38 kinders. In dié tyd het sy haar meestergraad in forensiese maatskaplike werk gedoen en haar verhandeling oor seksuele misbruik van kind op kind gedoen.

Ná haar troue het sy en haar man, mnr. Gerrit Hattingh, na Secunda verhuis. Hulle het ’n twee-jarige dogtertjie.

Buiten die seksuele sake, is haar tafel vol ander sosiale misdade, soos gesinsgeweld en dwelmisbruik.

Sy werk ook met ouers wat sukkel om ’n band met hul kinders te vorm en gee traumaberading.

Exit mobile version