Local newsNews

Helpende Hand maak Leandra-inwoner se Kerswens waar

Organisasie gee wenke vir Kersfees.

Die Leandra-tak van Solidariteit Helpende Hand het onlangs me. Mariaan van Rooyen se Kerswens waar gemaak.

Me. Van Rooyen doen graag kuns en haar wens was om ’n buisie swart verf te kry.

Helpende Hand het egter besluit om vir haar ’n houer vol kunsitems, wat verf insluit, te gee.

Dit is deur Helpende Hand se projek gedoen waartydens hulle oor 30 dae 30 mense se Kerswense waar maak.

Dié projek het op 15 November begin en duur tot 15 Desember.

Elke persoon wat gekies word, se Kerswens kan ter waarde van ’n duisend rand wees.

As jy dalk ’n bejaarde ken wat graag vir sy of haar familie wil gaan kuier, maar nie geld vir ’n buskaartjie het nie of as jy dalk ’n kind ken wat graag ’n fiets vir Kersfees wil hê, maar die familie kan dit nie bekostig nie, nomineer daardie persoon deur ’n e-pos te stuur na alisha@helpendehand.co.za of skakel 082 923 1438.

Jy kan ook ’n sopkombuis nomineer wat nie-bederfbare produkte benodig of ’n ouetehuis wat komberse benodig.

“Dié is Helpende Hand se kans om terug te gee,” het me. Alisha de Lange, streeksorganiseerder van Helpende Hand in Mpumalanga, gesê.

“Ons het heel jaar mense gehelp wat in nood verkeer, nou kry ons die geleentheid om mense se drome waar te maak.

“Dit is vir ons ’n baie spesiale geleentheid.”

Helpende Hand het Saterdag, 18 November ’n opleidingsdag gehou om vroue te leer hoe om tyd en geld te bespaar.

“Kerstyd is op ons en vir baie mense is dit ’n dol tydperk om alles gedoen te kry. Dit is waarom ons besluit het om dié dag aan te bied,” het me. De Lange gesê.

Die Maak Kersfees Maklik-projek het op Eendracht plaasgevind.

“Ma’s en vroue is geleer hoe om slim planne te maak om Kersfees met min middele makliker te maak.

“Ons het handige skoonmaakwenke gedeel, asook heerlike resepte wat met ’n appel en ’n ui gemaak kan word.

“Ons het vroue ook gewys hoe om goedkoop Kersversierings te maak om seker te maak die huis is vir Kersfees getooi.”

Vir meer inligting oor die Helpende Hand tak op Leandra, skakel me. Retha Boshoff by 082 388 0913 of besoek Helpende Hand se webwerf by www.helpendehand.co.za.

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder

“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button