Local newsNews

Bederf jou huiswerker of behoeftiges dié Kersfees

Ondersteun organisasie vir goeie doel.

HOëVELD – Solidariteit Helpende Hand se nuutste projek behels ’n splinternuwe produk by hul Ons Winkel op Secunda en Bethal wat inwoners kan gebruik om hul geliefdes dié Kersfees te bederf.

“Wil jy iets goeds doen vir jou werkers of behoeftiges die Kerstyd?” het me. Alisha de Lange, Helpende Hand se streekorganiseerder vir Mpumalanga, gevra.

Inwoners kan ’n koopbewys by Ons Winkel koop wat hul geliefdes dan kan gebruik om bruikbare items teen winskopies by Ons Winkel te koop.

“Dit is byna Kersfees en baie mense se harte loop oor van vreugde wat hulle graag wil deel,” het me. De Lange gesê.

“Meeste van ons het ’n huis- of tuinwerker wat ons graag wil bederf, of ’n behoeftige persoon in jou gemeenskap wie se las jy wil verlig.

“Die Ons Winkel-koopbewys stel jou in staat om ’n geskenk vir mense te gee wat hulle werklik kan gebruik.

“Jy kan self besluit hoeveel jy wil bestee en die persoon wat die koopbewys ontvang, kan enige produk of klere van dieselfde waarde as die koopbewys koop.

“In plaas daarvan om vir mense ’n koopbewys te koop by ’n winkel waar hulle baie duur gaan betaal vir items, kan jy hulle seën met ’n koopbewys by Ons Winkel.”

Helpende Hand het tans meer as 30 Ons Winkels landwyd.

Vir meer inligting, skakel me. De Lange by 082 923 1438.

Related Articles

Back to top button