Local newsNews

Johan en Saartjie Spies groet Ermelo ná ‘n leeftyd

Die besluit om die plaas te verkoop wat sedert 1870 aan die familie behoort en 'n ryk geskiedenis van Ermelo se voorvaders het, is nie ligtelik geneem nie, maar die tyd het aangebreek om rustig te raak en dinge te doen waarvoor daar nooit tyd was nie.

Bekende inwoners Johan en Saartjie Spies verruil binnekort die Hoëveld se prag vir ‘n see-uitsig in Reebok naby Mosselbaai.

Die besluit om die plaas te verkoop wat sedert 1870 aan die familie behoort en ‘n ryk geskiedenis van Ermelo se voorvaders het, is nie ligtelik geneem nie, maar die tyd het aangebreek om rustig te raak en dinge te doen waarvoor daar nooit tyd was nie.

Saartjie, kleindogter van een van Ermelo se dorpsvaders, ds. Paul Nel, het op die plaas grootgeword en in 1978 het sy en Johan die boerdery oorgeneem.

Sy was van 1983 tot 2010 aan die Hoërskool Ermelo verbonde.

Johan, oud-Springbokslot en boer, het ook 18 jaar as kontrakteur op Msobomyn gewerk voor sy aftrede.

Hy was in die laat ’70’s en vroeë ’80’s ook nou betrokke by Ermelo se dorpsrugby en het ook by die EHS met afrigting gehelp .

Saartjie vertel dat dit hartseer is om alles agter te laat, maar dat hulle dit maar moet “toeplak”. “Dit help tog nie om te huil as jy pak nie,” vertel sy laggend.

Sy sê hulle het tot nou hard gewerk en sien daarna uit om saam deur die land en wêreld te reis.

Hulle sal Ermelo en sy mense mis en beskryf Ermelo as ‘n “omgee-dorp met ‘n unieke besondere groep mense”.

Johan voeg by hoe opmerklik dit is dat Ermelo se kinders ver in die lewe kom en uitstyg bo ander.

Maar vir nou sê hul eers “tatta vir die dorp en dankie vir alles wat almal vir ons beteken het”.

Saartjie sê diegene wat hulle dalk eendag in die omgewing van Reebok bevind, is altyd welkom om in te loer en ‘n lekker wyntjie saam met hulle te geniet.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button