Trane toe ma en dogter na 38 jaar herenig

Sy het geen steen onaangeroer gelaat nie en het die Departement van Binnelandse Sake,’n privaatspeurder en ander instansies ingespan om haar te help met haar soektog na haar ma.

Annalize Snyman (sr.) se lewe was nog nooit maklik nie.

Sy het die grootste deel van haar kinderlewe in kinderhuise deurgebring nadat haar pa dood is toe sy vyf jaar oud was en haar ma nie vir haar en haar boeties en sussies kon sorg nie.

Op 17-jarige ouderdom het sy swanger geword, maar die pa van die kind wou nie verantwoordelikheid aanvaar nie en sy is alleen Pretoria toe waar haar ma op dié tydstip gebly het.

Haar baba, wat sy ook Annalize genoem het, is op ses maande in die ou Moederbond Hospitaal gebore en in ‘n broeikas gesit.

Sy is nie toegelaat om haar dogtertjie te sien nie en die Welsyn het die baba uit die hospitaal geneem en in pleegsorg geplaas.

Sy het egter nooit enige dokumentasie onderteken om afstand van haar kind te doen nie.

Sy kon later uitvind dat haar kind eers by pleegouers in Mountain View en later in Komatipoort was.

Toe klein Annalize vyf jaar oud was, het haar ma eendag op die trein na Komatipoort geklim om haar kind te soek.

Sy het die dogtertjie in die tuin gesien speel, maar toe die pleegouers haar gewaar, het hulle die kind in die huis gevat.

Kort daarna is sy in ‘n kinderhuis geplaas. Haar ma het nie geweet wat van haar geword het nie.

“Ek het egter nooit opgehou wonder waar my kind is en of sy nog lewe nie,” het Annalize gesê.

Intussen het die jong ma die spoor byster geraak. Sy was vir bykans 30 jaar haweloos en het by tye op straat gewoon.

Klein Annalize het grootgeword, die kinderhuis verlaat en in 1999 na haar ma begin soek.

Sy het geen steen onaangeroer gelaat nie en het die Departement van Binnelandse Sake,’n privaatspeurder en ander instansies ingespan om haar te help met haar soektog na haar ma.

Sy het inligting gekry dat haar ma op Breyten woon en het per Whats- App met Mike Coetsee, ‘n polisieman op Breyten, kontak gemaak.

Sy het haar ma se naam as Anna Snyman gehad en Mike het nie so ‘n persoon op Breyten geken nie.

Sy het later ‘n adres gekry en Mike het daarheen gery.

Daar gekom, het hy ‘n sakeperseel aangetref.

Hy onthou toe van Annalize wat al 10 jaar in ‘n weldoener se woonstel agter die winkel bly en dat haar van Snyman is.

Hy het dadelik vir Annalize jr. laat weet. Dié twee het gereël dat Annalize jr. van Durban af sou kom en haar ma verras.

Mike moes net sorg dat sy op die afgespreekte tyd tuis sou wees.

Mike het Annalize (jr.) in die dorp ontmoet en na haar ma geneem en vir haar gesê, “Annalize, dit is jou dogter.”

Die werklikheid het eers nie tot Annalize (sr.) deurgedring nie, maar toe sy besef dat haar dogter ná 38 jaar voor haar staan, was haar vreugde grensloos.

“Dit voel nog steeds vir my so onwerklik, so asof ek droom,” het sy aan die Hoëvelder gesê.

Annalize (jr.) was baie geskok om te sien hoe armoedig haar ma lewe en het dadelik aan die werk gespring om die lewe vir haar makliker te maak.

Sy het dinge soos ‘n ketel, breek- en messegoed en natuurlik kruideniersware gaan koop.

Haar ma is haarsalon toe geneem vir ‘n mooimaaksessie en hulle het vir haar klere gaan koop.

Sy is ook bederf met ‘n heerlike uiteet.

Annalize (jr.) is intussen terug Durban toe, maar werk hard daaraan om vir haar ma ‘n woonplek nader aan haar te kry sodat hulle verlore tyd kan inhaal en die ouma haar drie kleinkinders kan leer ken.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version