CrimeNews

Ernstige misdaad neem toe in Ermelo

Dit was toe hy omdraai om na sy bakkie terug te gaan dat twee mans, met 'n panga gewapen, hom ingewag het.

Ermelo het die laaste paar weke deurgeloop onder ‘n toenemende vlaag ernstige misdaad.

Afgesien van die toename in huisbrake, diefstal uit motorvoertuie en by sakeondernemings wat reeds ‘n rede tot groot kommer is, is verskeie ondernemings in gewapende rooftogte geteiken .

Saterdagaand was mnr. Jaco van Oudtshoorn, eienaar van Liqour Lane, die slagoffer van een so ‘n voorval wat byna sy lewe geëis het.

Volgens sy moeder, me. Bessie van Oudtshoorn, het Jaco en sy vrou, Christa, Saterdagaand omstreeks 21:00 die winkel gesluit.

Die egpaar het elk hul eie voertuig gehad en Christa het in haar bakkie geklim en oudergewoonte dadelik die deur gesluit.

Jaco het glo die dag se geld in sy bakkie gesit en na Christa toe gestap om reëlings vir aandete te tref.

Dit was toe hy omdraai om na sy bakkie terug te gaan dat twee mans, met ‘n panga gewapen, hom ingewag het.

Daar was ‘n struweling tussen die drie mans en Jaco moes verwoed keer vir die panga wat na hom geswaai is.

Volgens sy moeder, het Jaco gebid vir krag en daarin geslaag om die aanvallers van hom weg te skop en veilig in sy bakkie in te klim.

Christa het intussen gemerk wat aan die gebeur is en het die aanvallers met haar voertuig probeer verjaag.

Die aanvallers het toe te voet gevlug met Christa agterna. Jaco wou hulle ook agterna sit, maar het besef dat sy kop vreeslik bloei. Hy het toe na sy ouers, wat naby die winkel woon, gery om hulp te vra.

Jaco is in die kop, arm en been gewond en is na die hospitaal gehaas. Teen druktyd Dinsdagmiddag het Jaco goeie vordering getoon en sou dieselfde dag ontslaan word.

Die aanvallers is nog nie gevind nie.

In ‘n ander voorval Maandagoggend het twee gewapende mans om ongeveer 09:00 die Be Home-meubelwinkel in die Spar-kompleks binnegegaan, een van die werknemers aan haar stoel vasgebind en geld geëis. Van die ander werknemers het onraad vermoed en alarm gemaak. Werknemers van buurondernemings het ondersoek ingestel en die booswigte het in ‘n motor op die vlug geslaan.

Volgens een van die werknemers het hulle met die inhoud van die kasregister weggekom en die polisie kon nie bevestig of hulle met meer buit weggekom het nie.

‘n Bekende motorhandelaar in die dorp het ook verlede week deurgeloop toe daar ingebreek en motorbatterye gesteel is.

Die polisie ondersoek ook ‘n aanklag van moord nadat hulle Maandagoggend omstreeks 02:30 deur personeel van die provinsiale hospitaal in kennis gestel is van ‘n vrou wat aan steekwonde beswyk het.

Volgens polisiewoordvoerder kapt. Carla Prins­loo het ooggetuies vertel dat die oorledene en haar kêrel glo stry gekry het buite ‘n kuierplek in Silumastraat, Wesselton.

Die vrou het vyf steekwonde aan haar bolyf gehad wat vermoedelik deur ‘n mes veroorsaak is.

Die oorledene kon nog nie geïdentifiseer word nie en die polisie is steeds op soek na die verdagte.

In nog ‘n voorval wat Saterdagoggend ook omstreeks 02:00 sy oorsprong by ‘n kuierplek in Mdlulistraat, Wesselton gehad het, is

Njambulo Thwala (27) in hegtenis geneem en het in die hof verskyn op aanklag van bestuur onder die invloed van drank en poging tot moord.

Volgens kapt. Prinsloo het alles begin toe Twhala glo die spieëltjie van ‘n 33-jarige man se voertuig met sy voertuig buite die kuierplek raakgery het.

Die man wou by Thwala weet waarom hy dit gedoen het en besluit om eerder maar net weg te ry.

Volgens die man het Thwala twee skote op hom gevuur en hom in die skouer gewond.

Polisie op roetinepatrollie was ‘n blok weg van die voorval af toe hulle die skote gehoor het. Hulle het hul na die toneel gehaas waar hulle

Thwala met die vuurwapen in sy hand gevind het. Thwala het in sy voertuig gespring en van die polisie probeer vlug.

Die jaagtog het tot ‘n einde gekom toe Thwala met sy voertuig teen ‘n lamppaal voor die laerskool in Joubertstraat gebots het. Hy het glo uit sy voertuig gespring en probeer weghardloop, maar is deur die polisie voorgekeer.

Die voorvalle volg op verskeie rooftogte wat verlede week by motorhandelaars en selfoonwinkels plaasgevind het.

Die polisie doen ‘n ernstige beroep op die gemeenskap om waaksaam te wees en hulself en hul besittings op te pas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button