Buurtwag op Bethal druk hul stempel af

“Die veiligheid van ons gemeenskappe is nie net een persoon of organisasie se verantwoordelikheid nie, ons moet saam staan in dié stryd”

Die burgerregtewaghond AfriForum se buurtwagte in Mpumalanga-Wes wat Bethal, Secunda , Delmas, Witbank, Leandra en Standerton insluit, het in samewerking met talle ander veiligheidsinstansies en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aan AfriForum se nasionale patrollie op 4 Augustus 2017 deelgeneem.

Die groep was vanaf 6.30nm tot 1.20vm operasioneel.

In Bethal alleen is twee padblokkades gehou, 155 voertuie afgetrek en nege boetes uitgereik.

Volgens mnr. Hillel Coetzer, AfriForum se streekkoördineerder vir Mpumalanga-Wes, is 17 voorvalle suksesvol hanteer en het 278 patrolleerders in 169 voertuie altesaam 918.47 man-ure ingesit vir die nag.

Die deelnemers het lede van Langamed-Suid Ambulansdienste, staatsparamedici en die brandweerafdeling ingesluit.

Meer as 3 000km is die aand deur die buurtwagte afgelê en ’n groot impak is gemaak met sigbaarheid van die lede.

Mnr. Jaap Pretorius, voorsitter van die AfriForum/GPF Buurtwag op Bethal, het gesê dat hul aksie ’n groot sukses was.

“Daar is duidelik ’n stempel afgedruk dat ons nie misdaad sal duld nie en die misdadigers moet dit weet.”

Hy het sy dank uitgespreek teenoor almal wat deelgeneem het, asook Langamed, Bethal se brandweer, die Bethal SAPS en die provinsie se paramedici en HABPS Sekuriteit.

“Die veiligheid van ons gemeenskappe is nie net een persoon of organisasie se verantwoordelikheid nie, ons moet saam staan in dié stryd.

“Daarom doen AfriForum ’n beroep op gemeenskappe om toenemend betrokke te raak by die veiligheidstrukture wat geskep word,” het mnr. Coetzer op sy beurt gesê.

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder

“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

Die groep buurtwaglede van Bethal wat onlangs padblokkades op die dorp gehou het.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version